Jong hoogspringer skitter onder SA Top 10
Michael skitter op die SA Skole Top Tien se hoogspringlys.
VANDERBIJLPARK – Hoogspring is sy passie. Hy beoefen die sport al sedert sy laerskooldae en spandeer ure aan die sport.
Michael Redelinghuys se toegewydheid en harde werk is besig om vrugte af te werp.
Onlangs is die SA Skole Sport Sterre se Top 10 bekendgestel en Michael se naam, die enigste in die Vaaldriehoek, het in die vyfde plek geskitter vir hoogspring seuns o15.

Hierdie jaar is hy in graad 10 aan die Hoërskool Transvalia en werk daaraan om die hoogte van 1.88m wat hom op die ranglys geplaas het verby te steek.
Dis nie ‘n onbereikbare droom nie. In Januarie 2023 het hy nog gedroom daarvan om 1.8m verby te steek en kyk waar staan hy nou.
Michael sê op laerskool het hy alle sportsoorte probeer van rugby tot by tennis, maar dit was eers nadat hy hoospgring probeer het, wat hy sy merk begin maak het.
In 2020 het hy deur die grendelstaat geoefen onder leiding van sy pa wat self op sy dag ‘n hoogspringkampioen was.
Sy pa, Michael (sr) het op Facebook gesê: “Geluk seuna. Ons weet hoe baie werk is dit en hoeveel jy partykeer moet opoffer.
“Hou so aan en werk hard met die talent wat onse Heer vir jou gegee het. Ek is baie trots op jou!”
