Local newsNewsNews

Graad 1’s behoorlik welkom geheet

Dis 'n groot oomblik om by die kanthekkie in te gaan en te weet jou graad R-dae is vir goed verby, nou begin jou skoolloopbaan ampetlik.

VANDERBIJLPARK – Die leerlingraad by Laerskool Kollegepark het by die kanthekkie gewag met bakke lekkergoed en geel vlaggies.

Onder die bome het die graad een juffrouens gereed gestaan om hul leerders bymekaar te maak.

Jason Stone lui die klok om sy eerste dag in die laerskool aan te kondig. Foto’s Gerda Bruinette

Oral is daar fotostasies waar ouers, oumas en oupas die kleingoed kon afneem om hulle te herinner aan hul eerste skooldag.

Die belangrikste is die tafel aan die einde van die ry met die klok op. Elke graad eentjie kry die kans om die, vir party is dit ‘n sware, klok op te tel en ywerig te skud.

Liame Marx by een van die fotostasies vir die graad 1’s. Die tema vir die dag was We Rock.

Elke keer as die helder klanke van die klok opklink betree nog ‘n jongeling sy amptelike skoolloopbaan. Die meeste van die jongspan was haastig om die klok te lui en by maats onder die bome uit te kom.

Van hulle ken mekaar immers van hul graad RR en R dae af. Ander was glad nie so seker oor die hele gedoente nie. Die graad sewes by die hek is wantrouig beloer en die lekkergoed is eers met ma of pa se toestemming geneem.

Ethan Leonard saam met sy pa en oom, Edward en Arno Leonard. Foto’s: Gerda Bruinette

Party wou niks weet van foto’s neem by enige stasie nie, maar almal het die klok gelui. Trane was daar wel, onder die ouers en ander familie wat die kleingoed gebring het.

Onder die opgewonde graad eens was daar net so hier en daar een wat lastige trane weggevee het en een van die juffrouens moes ten minste een seuntjie troos.

Dit was duidelik dat die vroeë oggend aan party se beendere gevat het. Om darem al 07:00 by die skool te moet wees… Meer as een het in die rye gestaan en gaap.

Charmoné van Tonder is reg vir graad 1.

‘n Paar seuns het aan’t spele geraak elke keer as juffrou nie kyk nie, en meer as een se naamkaartjies het kort-kort op die grond beland.

Uiteindelik het die leerlingraad klasse toe gespaander, onder die bome het rye gevorm en is daar na die juffrouens geluister. Die matrikulante van 2036 se eerste skooldag het begin.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button