Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Hoed af vir graad 1 onderwysers

RUBRIEK - Graad 1's en hul juffrouens is 'n gedugte kombinasie. Ek haal my hoed vir die onnies af, want die graad een maats is soms 'n handvol.

RUBRIEK – Die eerste skooldag het aangebreek. Sosiale media kreun onder al die foto’s van kinders op pad skool toe.

Ek het my alarm heelwat vroeër as gewoonlik gestel. Sommer twee, want die eerste skooldag kan nie gemis word nie en ek is bekend vir alarm dooddruk en verder droom.

Op die kop 07:00 stop ek Myse Ford, Mich, naby Laerskool Kollegepark se klein hekkie. Die erewag van graad 7 leiers groet vrolik. Hulle lyk groot teen die graad eentjies wat inkom.

Die meeste is dapper. Ander skuil bietjie agter ma of pa. Een boetie het met ‘n vasberade trek op sy gesig deur die verwelkomers gestormloop, maar etlike minute later vee hy lastige trane af in die ry.

Later gaan draai ek by D.F. Malherbe. Die graad 1’s is so pas klas toe. Die res moet saal toe. Ek wag in die voorportaal vir die tweelinge, hoor ‘n juffrou  om die hoek praat.

“Nee, twee rye. Volg die ry sodat julle nie verdwaal nie. Julle is nou van die meisiekinders geskei.” Tienuur bevind ek my in Sasolburg.

Dis pouse, maar die graad 1 juffrou weet waar is die jongelinge. Haar tafel is oorlopens gepak met wet wipes en bokse snesies. “Hulle het ‘n toring op my tafel gebou,” beduie sy en ek vra liewer nie hoekom nie.

Gou is daar ses rakkers in die klas. Ek verstom my hoe elkeen al hul naam kanspel. “Akuut op die e,” beduie enetjie ernstig en ek val amper van die klein graad 1 stoeltjie af waarop ek sit.

“Botha. Bradley Botha,” stel die volgende een homself voor. Die lotjie gesels lekker. “My naam is Jacques. Skryf maar my van by. Dis Kotze met ‘n zee in.”

Ek neem foto’s. Jacques sien uit na al die sport. “Wat het julle al vandag gedoen?” vra ek na sy sug omdat die juffrou hom nog nie leer lees het nie.

“Ag, klas toe gegaan, geëet, water gedrink, so ver nog niks opwindends nie.” Ek lag en skuif die stoeltjie terug.

Niks opwindends nie, inderdaad maar in die 10 minute wat ek daar was het hulle ‘n waterbottel omgeskop, gestry oor wie is volgende en grootoog gekyk toe hul arme juffrou die vloer moes mop.

“Twee rye. Ons loop in twee rye,” eggo sy die ander juffrou se woorde toe ek loop. Hierdie joernalis is dankbaar ek is nie ‘n juffrou nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button