Kosbare oorbel wonderbaarlik in winkelsentrum se parkeerterrein gevind!
Een van Makro se personeellede, me. Thando Shabangu, was die middag ná haar skof op pad taxi-staanplek toe, toe sy iets op die parkeerterrein sien blink het.

MEYERTON. – Hoe vind mens ‘n kosbare oorbelletjie nadat dit verlore geraak het by ‘n massiewe kettingwinkel, op ‘n terrein wat etlike rugbyvelde groot is? Mens plaas ‘n kennisgewing op Vaalweekblad en Ster se aanlyn-platforms en dan hou jy net aan bid. Só sê André en Amanda Brits, ‘n sake-egpaar van Midvaal, nadat presies dit verlede Woensdag met Amanda gebeur het.
“My dag het soos enige normale werksdag begin,” sê Amanda. “Ek het Biekiebos en Rainbow Inflatables se aankope by Makro Vaal gaan doen en was in die skryfbehoeftes-afdeling toe ek ‘n rolletjie kleeflint van ‘n rak af laat val het. Dit het teen my regteroor geval en ek vermoed dit het die knippie van my oorbelletjie laat losgaan, maar ek het dit nie in daardie stadium agtergekom nie.
“So twee ure later was ek terug by Biekiebos en het rustig in die restaurant gesit toe ek my hare wou vasmaak. Dit was toe dat ek met skok besef het my kosbare oorbel was nie meer in my regteroor nie. Ek, my man André, al ons bestuurders en personeel het oral begin soek… op ons groot terrein, ons grasperke, in my voertuig. Alles is gefynkam maar die oorbelletjie was skoonveld. Ek het besef dit was soos om na ‘n naald in ‘n hooimied te soek.
“My ma het saam met my man bygedra vir die pragtige oorbelletjies en bypassende ring, wat hulle as ‘n verjaardag- en huweliksherdenkingsgeskenk vir my gegee het… die laaste geskenk van my ma af voordat sy onlangs oorlede is. Hoewel die juweliersware waardevol is, is dit die sentimentele waarde daarvan wat dit onvervangbaar maak. Nodeloos om te sê, ek sukkel nog om my ma se heengaan te verwerk en nou moes ek boonop aanvaar een van haar laaste, liefdevolste geskenke aan my is ook weg. Ek het so hard gebid en gevra, Here, gee my net ‘n idee waar om te soek. My hart was seer en die trane het geloop! Ek het begin vermoed ek het die oorbelletjie dalk reeds in Makro of in die parkeerterrein verloor.
“My man het besef hy moes iets doen. Hy kontak toe vir MooiVaal Media, wat ‘n kennisgewing met ‘n beloning van R5 000 op Vaalweekblad en Sedibeng Ster se Facebook-profiele geplaas het. André het ook vir Shawn Deysel van Makro gekontak en gevra dat die personeel op die uitkyk vir die oorbel moes wees. Van die personeel het begin soek en Shawn het self ook ingespring, maar alles tevergeefs.”
Een van Makro se personeellede, me. Thando Shabangu, was die middag ná haar skof op pad taxi-staanplek toe, toe sy iets op die parkeerterrein sien blink. Dit was ‘n oorbelletjie maar sy het toe nog nie geweet van Amanda se verlore oorbel nie. Sy het dit opgetel en saamgeneem huis toe, en later die aand MooiVaal Media se kennisgewing op Facebook gesien. Sy het dadelik besef die unieke oorbel wat sy opgetel het, lyk presies soos die een waarna gesoek word. Sy het Vaalweekblad vroeg die volgende oggend gebel en opgewonde gesê sy hét hom!
Trane het wéér gevloei toe Thando later die dag die kosbare oorbelletjie aan Amanda oorhandig. En toe sy hoor hoeveel sentimentele waarde dit vir Amanda het en dat dit ‘n geskenk van haar oorlede moeder was, het Thando se hart heeltemal vermurwe. Sy het die egpaar se beloning van die hand gewys. Hoewel die oorbelletjie effens beskadig is weens voertuie wat vermoedelik daaroor gery het, sal dit mooi herstel kan word.
“‘n Groot dankie aan Thando, aan Makro en aan MooiVaal Media, sonder wie se hulp ons die oorbel nooit sou kon vind nie. Ek is só dankbaar en ek glo my moeder in die Hemel is ook,” sê Amanda.

