Spaanse dansers gaan groot in 2025
Plaaslike Spaansedans studente het saam met ander dansskole die fyner kunsies van die Flamenco bemeester.
SASOLBURG – Sondag het Spaanse dansstudente by die Pro Arte Kunsskool in Pretoria bymekaargekom vir ‘n spesiale Flamenco werkswinkel onder leiding van Ramon Fernandez.
Die Vaaldriehoek is verteenwoordig deur Carli Olivier Bresser en Georgina Jacobs en hul studente.
Fernandez het in Durban groot geword, maar is later Madrid, Spanje toe waar hy reeds groot naam gemaak het as ‘n Flamenco danser.
Die werkswinkel was die eerste van die Spanish Dance Society (SDS) se feesvieringe vir die jaar.
Die SDS is in 1965 in Suid-Afrika gestig om Spaanse dans te bevorder. In die afgelope 60 jaar het die organisasie gegroei tot ‘n internasionale gemeenskap wat sover as Spanje strek.
“Almal het die werkswinkel, wat op drie vlakke aangebied is, baie geniet en ons sien uit na al die spesiale projekte en verrigtinge wat hierdie jaar gaan plaasvind,” het Carli laat weet.
