Kraaie maak hulself tuis in CW6
VANDERBIJLPARK - Ses witborskraaie het die afgelope week hul verskyning in CW6 gemaak en kon daagliks in die buurt gehoor en gesien word. Hulle roep is onmiskenbaar hard en skor.
Kraaie is inheems aan Suid-Afrika en kom eintlik oral voor (behalwe in die Karoo en Noord-Vrystaat), maar tog is hulle nie alledaags in plaaslike woonbuurte te sien nie.
Die witborskraai kan uitgeken word aan ‘n wit bors en ‘n breë wit kraag aan die agterkant van die nek.
Volgens Wikipidea is daar drie inheemse kraaie in SA: swartkraai, witborskraai en withalskraai.
Hoewel kraaie meestal woude en beboste gebiede verkies, word hulle ook dikwels aangetref by vullishope, op landerye en in dorpe waar kos volop is. Want kraaie eet meestal enigiets.
Dit maak dan ook sin waarom die kraaie nou in die woongebied te sien is, want oop velde tussen huise word as vullishope gebruik.
Die kraaie kan egter ook help om rot en muis populasies, wat deur die vullis gelok word, onder beheer te hou.


Navorsing het getoon dat kraaie slimmer is as verskeie ander voëls wat reeds bestudeer is.
Hulle kan byvoorbeeld leer om tot by vier te tel en kan ook sekere seine en die beskikbaarheid van kos met mekaar in verband bring.
Hy kan selfs geleer word om ‘n mens se stem na te boots.
Hoewel van die CW6-inwoners onder mekaar bespiegel het dat dit snaaks was om ses kraaie so saam te sien, is dit inderwaarheid geen snaakse verskynsel nie.
Witbors- en withalskraaie bly lewenslank by dieselfde maat, terwyl die jong voëls wat nog nie geslagsryp is nie, groepe vorm.
Die kraaie het vir sowat drie dae in die buurt gebly.
Hulle het intussen na ‘n nuwe woonbuurt of dorp “verhuis”.
* Kraaie speel ‘n belangrike rol in legendes of in die mitologie as voortekens of ongelukbringers. Dit is te danke aan hul swart veredos, hulle krasgeluide en hulle gewoonte om aas te vreet, as gevolg waarvan hulle vroeër gereeld op slagvelde te sien was.

