Tokkie sterk goed aan na groot operasie
Die storie van 'n kuifkop houtkapper wat slim genoeg was om hulp by die regte mense te gaan soek.

SASOLBURG – Dr. Letitia Swartz het Maandag ‘n spesiale pasiënt by Sasolburg Veearts behandel.
‘n Jong Kuifkop houtkappertjie is deur Monica van Aswegen ingebring. Hy was erg beseer en Letitia sê sy magie was oopgehak.
Gelukkig kon hulle ‘n operasie doen en Tokkie (naam deur Vaalweekblad gegee) is die middag ontslaan. Vir eers word hy by Monica in Vanderbijlpark versorg.
Inwoners van SW5 het Sondagmiddag die beseerde kuifkop houtkappertjie in hul motorhuis gekry en hom na Monica geneem.
“Dit het gelyk asof hy kom hulp vra het,” het Monica gesê. Sy het dadelik vir Tokkie skoongemaak, pynmedikasie en antibiotika gegee, maar ook besef dat sy wond te ernstig is vir haar om te versorg.
Derhalwe is Tokkie na Sasolburg Veearts geneem. Monica sê die voëltjie sal vir die volgende twee weke of so in haar sorg wees.
“Ek maak eers seker dat hy heeltemal gestabiliseer is voordat hy na die SA Wildlife Rehabilitation Centre vervoer sal word.
Daar sal hy versorg word en selfs vlieglesse kry alvorens hy uiteindelik in ‘n natuurlike habitat vrygelaat word.”
Die kleine Tokkie het heelwat reaksie op Sasolburg Veearts se Facebookblad ontlont.
Mariette Mulder se kommentaar lees: “Awhhhh, jy is sooo goed vir al ons diere kinders… Ek mis reeds een houtkappertjie in my tuin… wonder of dit hy kan wees.”
Terwyl Retha Vosloo laat weet het: “Ag nee rêrig! Ag siestog. Hoop hy’s gou beter.”
Louise Nortjé Bezuidenhout het baie mense se gevoel teenoor Letitia en die situasie uitgedruk met haar kommentaar: “Ag moeder tog hulle is so dierbaar. En jy dokter is baie spesiaal vir ons diereryk.”