Dit het met ‘n melktert begin
Deursettingsvermoë is die geheim tot 'n suksesvolle, lang huwelik, aldus Francois en Rita van Graan wat al dekades getroud is. Lees meer...
VANDERBIJLPARK – Dit het alles in 1962 begin toe ‘n vriendin van haar ma vir Rita leer melktert bak het. Min het Rita geweet die tannie se seun was by die huis en sy het hoeka gedink die jong nooi sal by haar seun pas.
Francois van Graan was ‘n jong lugmag vlieënier en hy het rustig in die sitkamer gesit terwyl al die melktertbakkery aan die gang was.

Rita het by die sitkamer ingeloop en die res is geskiedenis. Die egpaar is 16 Januarie 1965 getroud en het die week hul 60ste huweliksherdenking gevier.
“My kinders wil altyd weet, wat het gebeur? Hoe het ons verlief geraak? Ek kan nie sê nie, ons het net dadelik gekliek,” vertel tannie Rita (79) waar sy rustig langs oom Francois (81) sit.
Hulle het ‘n eg militêre troue gehad met al die manne, die bruidegom inkluis, in seremoniële uniform geklee.
Na hul troue het oom Francois sy loopbaan in die lugmag voortgesit en was hul onder andere in die Kaap en in Pretoria gestasioneer.
Hy het in 1993 as kolonel afgetree en die egpaar het ‘n aftreehuis in Modimolle (Nylstroom) gekoop. ‘n Vriend het hul egter oortuig om ‘n vakansieoord in Port Edward te gaan bestuur.
“Dit was lekker, maar ons kon dit net vir omtrent ses maande doen,” vertel tannie Rita. “Ja, dis toe wat ek my eerste beroerte gehad het,” voeg oom Francois by.
Teen 2000 het hul kinders besluit hulle kan nie meer so ver bly nie. Hul dogter en haar man het vir hulle ‘n ruim woonstel aan hul huis gebou en die Van Graans het sak en pak Vanderbijlpark toe getrek.
“Hier is ons nou al 25 jaar. Ons is gelukkig,” beduie tannie Rita. Oom Francois stem saam. “Hierdie is ‘n groot jaar vir ons. Ons is nou 60 jaar getroud. Ons eerste agterkleinkind word die week gebore. Rita word 80 in September. Niekie en Susan is 30 jaar getroud die jaar, ons jongste kleindogter Retha word 21 en een van ons kleinseuns trou 13 Desember.”
Geseënd voorwaar en steeds gelukkig saam. Rita en Francois van Graan is ‘n voorbeeld en inspirasie vir ander getroudes.
