Bekende Sasol-opleier sterf op 92
"Hy was ‘n nederige, eerlike en hardwerkende mens wat almal wat oor sy pad gekom het, gerespekteer het. Jy kon nie anders as om van hom te hou nie."
SASOLBURG. – Familie en vriende het Vrydag, 17 Januarie, tydens ‘n groetdiens afskeid geneem van mnr. Martiens van Reenen (92), wat deur die jare diep spore by Sasol getrap het. Dié bekende en geliefde inwoner van Sasolburg het op 12 Januarie weens ‘n ingewandstoestand in Emfuleni Mediclinic beswyk.
Mnr. Van Reenen is op 23 Augustus 1932 op die plaas Patryshoek in die distrik Warden gebore. Volgens sy kinders kon hy genotvolle staaltjies uit sy kinderdae vertel, soos hoe hy as Depressiejare-kind met sy perd Bloubul skool toe moes ry en gereeld afgegooi is. Ook hoe die juffrou by die plaasskooltjie moes sukkel om die Afrikaanse kinders Engels te leer, en hulle dan met “donkie-ore” moes straf as hulle nie regkom nie.
Na voltooiing van sy Standerd 8 het hy by ‘n wolfabriek in Harrismith gaan werk, waar hy sy toekomstige vrou, Baby (Aletta Fredrika Pretorius) ontmoet het. Na hul troue in die 1950’s het die paartjie na die destydse nuwe dorp, Sasolburg, verhuis waar mnr. Van Reenen by Sasol begin werk het: Eers as ‘n leerling-proseskontroleur, mettertyd produksievoorman en later hoof-opleidingsbeampte by Arge (Sasol Wasse). Hy het sy N3 (Matriek) deur deeltydse studie verwerf en ook verskeie kursusse by Sasol deurloop. Dit het hom ‘n gerekende werknemer en bekwame leier onder sy kollegas en selfs senior ingenieurs gemaak.
Nadat hy in 1987 met pensioen gegaan en ‘n paar jaar met hoenders geboer en ‘n rollermeule bedryf het, het Sasol hom in 1990 gevra om terug te kom en op ‘n kontrakbasis opleiding aan nuwe ingenieurs en ander personeel te verskaf. Hier het hy met vername ingenieurs saamgewerk, soos Stefan Schoeman, wat later betrokke was by die bou van Sasol se aanleg in Louisiana (VSA). Mnr. Van Reenen was tot op die ouderdom van 83 op ‘n kontrakbasis aan Sasol verbonde, waar hy modules help skryf het en ook by verskeie uitbreidings by die Sasol Was-aanleg betrokke was.
Sy gesin onthou hom as ‘n man wat nooit kon stilsit nie. “Sy hande moes altyd besig bly. Hy sou sommer vir die pret sy motorfiets begin uitmekaarhaal en weer aanmekaar sit, gewoonlik met meer onderdele na die tyd beskikbaar! Hy kon alles doen: bou, teelwerk, plumbing en verf, en sou twee of drie keer per dag die stoep afvee. Hy het graag blokkiesraaisels ingevul en het ‘n ryk en breë algemene kennis gehad. Hy het nog tot op die ouderdom van 92 sy eie motor bestuur,” sê sy seun, Tinus. “Sy liefde vir ons ma en die familie was opvallend, en daar was altyd tyd vir ‘n grappie, selfs toe hy al so siek was in die hospitaal. In sy gesonde jare kon hy my ma net spontaan om die lyf vat en met haar dans.
“Hy was lief vir die natuur en het in sy jonger dae baie tyd saam met sy kinders langs die Vaalrivier spandeer waar hy ons allerhande visvangliedjies en gedigte geleer het. Hy was ‘n nederige, eerlike en hardwerkende mens wat almal wat oor sy pad gekom het, gerespekteer het. Jy kon nie anders as om van hom te hou nie.”
Mnr. Van Reenen se troosdiens is by die NG Kerk Sasolburg Fontein gehou. Hy word buiten sy vrou oorleef deur sy dogter Alta Swart, en seuns Piet, Jaap en Marthinus, skoonkinders, 10 kleinkinders en 10 agterkleinkinders.
Die troosdiens kan by hiedie skakel gekyk word: https://www.youtube.com/live/3GAgHg-ObEw


