Vreugde van korte duur, Downsindroom-tiener terug in hospitaal
VANDERBIJLPARK - Kegan Holl, 'n 17-jarige verlamde Downsindroom-seun van die dorp, sal in die hospitaal moet bly totdat daar vir hom 'n suurstofmasjien beskikbaar is wat tuis gebruik kan word.
Die hospitaal het by die staat aansoek gedoen vir die suurstofmasjien, maar daar is op die stadium geen aanduiding hoe lank dit gaan neem om dit goedgekeur en aangeskaf te kry nie.
Kegan is reeds van 30 Desember in die hospitaal en wil bitter graag huistoe gaan.
Sy ouers was verlede Maandag opgewonde toe Kegan ontslaan is, maar die vreugde was van korte duur.
Hulle moes later die aand met hom terug jaag na die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal toe hy asemhalingsprobleme ondervind het.
“Ons was vir ‘n ruk by die huis, toe raak die suurstofbottel leeg. Sy mond en wange het begin blou raak. Hy is dadelik weer opgeneem en kry deurgans suurstof,” vertel ma Krystle Claassen.
Kegan sal voortaan deur die dag afhanklik wees van ‘n suurstofmasjien, en saans sal ‘n (CPAP – Continuous positive airway pressure) gebruik word omdat hy slaapapneë het.
Kegan het ook skildklierprobleme wat sy gewig beïnvloed. Sy huidige toestand is geklasifiseer as Obesity Hypoventilation Syndrome en Obstructive Sleep Apnea.
Dit beteken dat sy gewig sy longe belemmer en hy sal dus gewig moet verloor.

Intussen sit die gesin in ‘n geldelike verknorsing.
“Ons is gelukkig om in die tyd by vriende in Alberton te bly om nader aan Kegan te wees. Die petroluitgawes is egter steeds hoog en my man moes van die werk afvat om my daagliks hospitaal toe en terug te neem omdat ek nie ‘n lisensie het nie,” verduidelik Krystle.
Krystle en stiefpa Anton Claassen probeer maar soveel moontlik by Kegan in die hospitaal wees, want die jongman wil eerder by sy ouers en huis wees.

* Om met al die onkostes te help het hulle ‘n BackaBuddy fonds vir Kegan gestig. Indien daar enigiemand is wat die gesin wil ondersteun of Kegan se lewe so bietjie wil ophelder kan Krystle direk by 065 301 3108 gekontak word.
