Henley-busramp van 1970 só onthou
Daar is min gebeure wat die dorp in die afgelope 100 jaar so erg geruk het as die Henley-on-Klip busramp van 1970, waartydens 23 kinders hul lewens verloor en 16 beseer is.
MEYERTON. – Die slagoffers van die Henley-on-Klip busramp van 1970 word vandag onthou.
Hoewel daar 55 jaar verloop het sedert dié hartseer insident onthou baie inwoners van die Vaaldriehoek die busramp nog asof dit gister gebeur het en waardeer mense opnuut die heldhaftigheid van Johan le Roux, ‘n skoolseun wat daardie dag sy lewe gegee het om ander uit die bus te red voor dit deur ‘n trein getref is.
Kobie Ströh gee op die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) se Facebook-blad ‘n opsomming van die gebeure wat tot die tragiese voorval gelei het:
“Op 28 Januarie 1970 was die skoolbus oudergewoonte vanaf Hoërskool Dr. Malan, Laerskool Verwoerd en Meyerton Primary op pad na Daleside om die leerlinge na skool te gaan aflaai.
Die bus het toe by die spooroorgang (Highbury/ Henly on Klip Spooroorgang), stilgehou en stadig weggetrek, maar die enjin het gestol net toe die bus op die spoorlyn was.
Die busbestuurder, mnr. Koekemoer, het tevergeefs probeer om die bus se enjin weer aan die gang te kry. Intussen het ‘n elektriese trein, die postrein, met volle vaart, teen ongeveer 80 km per uur op die bus afgestuur.

Die treinbestuurder het tevergeefs probeer om die trein tot stilstand te bring, maar die trein het al vinniger op die bus afgepeil.
Die kinders het die gevaar gesien en paniekbevange geskreeu, terwyl sommiges teen die bus se vensters geslaan het.
Hansie Fourie, ‘n busprefek, kon daarin slaag om die deur oop te kry en uit die bus te spring. Johan le Roux, ‘n matriekseun, het op daardie tydstip besef dat die trein die bus gaan tref en aan die noodvenster begin stamp.

Toe Hansie dit nie kon oopkry nie, het hy dit oopgeskop en kinders gehelp om uit te spring.
Hy het ook gesien hoe die agtjarige Petrus van der Walt by ’n kantvenster in die middel van die bus vassit.
Johan het gehardloop en Petrus by die venster uitgestamp sodat hy na veiligheid kon hardloop.
Daarna het Johan na die noodvenster teruggehardloop en nóg ’n seun, Willem Nel, gegryp en hom net betyds by die noodvenster uitgegooi.

Dit was op daardie oomblik, terwyl die dapper 17-jarige nog steeds binne-in die bus was, wat die trein die bus getref en in stukke geruk het.
Van die 42 kinders in die bus het 23 gesterf. 16 is ernstig beseer.
Slegs 3 was ongedeerd.
Die busbestuurder het die voorval oorleef. Meeste van die kinders was van Daleside af want hulle het altyd laaste van die bus afgeklim.
Party gesinne het meer as een kind in hierdie tragedie verloor.

Johan le Roux sal altyd onthou word as ‘n groot kinderheld wat sy eie lewe opgeoffer het om ander kinders se lewens te red.
Johan was ‘n toegewyde Voortrekker.
Die oggend voor die ramp het die skoolhoof aangekondig dat hy die onderskeiding as Presidentsverkenner verwerf het, ‘n toekenning vir uitstaande Verkenners in die Voortrekker Jeugbeweging.
Die Wolraad Woltemadetoekenning vir Dapperheid is ook aan hom toegeken.”
* Samesteller: Kobie Ströh van GGSA
*Bronne: Afrikanergeskiedenis. Koerantberigte. Die Voortrekkers Hou Koers – Danie Langner. Kaalvoethelde. www.monument-sa.co.za

