Wys my jou pampoene!
Dink jy jy kan die beste pampoengereg maak? Of het jy 'n rekordbrekende pampoen in jou tuin? Indien wel is die Goliat van Gat Pampoenfees die fees vir jou.
Die Vaal spog boonop met pampoenkoning Wykus Lamprecht van Meyerton wat reeds die titel vir swaarste pampoen drie agtereenvolgende jare huistoe gebring het.
In 2021 het Wykus se Johanna (790kg) die eerste plek verower, in 2022 het Barbie die skaal op ‘n allemintige 846kg laat kreun en in 2023 was dit Liesbet wat met ‘n allemintige gewig van 890kg die titel aan Wykus besorg het.
Pampoen Poppie, het nie verlede jaar die skaal die swaarste laat kreun nie, maar het die titel verower vir mooiste pampoen.
Ons geld is natuurlik weer op Wykus en sy nuwe pampoenkind hierdie jaar.
Vanjaar se fees sien effens anders daarna uit. Hierdie jaar is verbruikers en deelnemers in die kollig met ‘n opwindende pampoengereg-kompetisie wat oop is vir almal.
Of jy nou ‘n professionele kok, of ‘n tuisbakker is.

Die Cullinan Boere-unie, in samewerking met TLU SA, bied die Goliat van Gat Pampoenfees op 15 Maart by die Pretoria Ou Motorklub in Silverton aan. Die dag se pret begin om 09:00.
Henri Combrink, organiseerder van die Goliat van Gat Pampoenfees, moedig almal aan om betrokke te raak:
“Hierdie fees is nie net vir die groot pampoene nie, maar vir groot geesdrif in die kombuis! Ons nooi alle kosliefhebbers om hul resepte te deel en deel te wees van hierdie feestelike ervaring.”
Die reuse-pampoenkompetisie bly steeds ’n groot trekpleister, met kategorieë soos die 10 grootste pampoene, ook die mooiste en die lelikste.
Daar is ook ’n spesiale kategorie vir kinders onder 16 jaar, sowel as inskrywings vir ander groentes soos reuse komkommers en tamaties.
Kom skep saam herinneringe, deel jou passie vir pampoene, of geniet net die stalletjies, kos en gees.
Vir inskrywings en meer inligting oor stalletjies, kontak Henri Combrink by 082 552 9428 of e-pos culliboer@gmail.com.
