Onaanvaarbaar! Waar is ons persvryheid?
Kyk hoe is 'n joernalis wat net sy werk gedoen het vandag hardhandig uit 'n openbare raadsvergadering van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit verwyder.
VEREENIGING – In ʼn gruwelike voorval is een van die Vaalweekblad se joernaliste, Christiaan Cloete op 29 Januarie uit ʼn openbare raadsvergadering van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit geboender.
In video’s kan gesien word hoe Christiaan aan sy arms gegryp word en met geweld uit die raadsaal verwyder word.
Groepredakteur van Caxton Plaaslike Media, Irma Green, het gesê: “Ons sal nie duld dat ons joernaliste mishandel word wanneer hulle hul pligte uitvoer nie.
“Raadslede is in diens van die publiek en is verkies om die publiek se belange te verteenwoordig.
“Dit is die media se rol om die publiek in te lig en om dit te kan doen, is vrye vloei van inligting nodig. Wat vandag gebeur het is betreurenswaardig.”
Cloete was besig om foto’s te neem. Die raad was op die punt om ʼn mosie van wantroue teen die Uitvoerende Burgemeester Lerato Maloka te bring.
Die Speaker Moipone Modikeng het hom gevra om op te hou om die raadslede af te neem terwyl hul debatteer.
Cloete sê hy het voortgegaan omdat “joernaliste ʼn mandaat het om oor gebeure in openbare belang te rapporteer.”
Die hoof van sekuriteit en nog ʼn paar groot manne het hom aan sy arms gegryp en buite neer gegooi. Hy het daarna ʼn saak van aanrading en opsetlike beskadiging van eiendom by die polisie oopgemaak.
