Rocking the Vaal: Rekordpoging by Die Ankerskool
VANDERBIJLPARK - Groot opgewondenheid bou reeds op vir die jaar se Rocking the Vaal wat op 28 en 29 Maart plaasvind.
Die eerste pret van die fees, wat deur die GTCoC (Goue Driehoek Sakekamer) in samewerking met verskeie ander rolspelers en borge aangebied word, vind op Vrydag, 28 Maart by Die Ankerskool plaas.
Die eerste van drie aanslae op Guinness Wêreld Rekords word dan aangedurf, naamlik: die meeste mense wat op een slag brood breek.
Die huidige rekord is 478 mense, en daar gaan gepoog word om dit na 1 000 te verbeter.
Deel van die aand se pret by die skool sluit in optredes deur Fatman, Reborne en Future Radio.
Daar gaan ook op Vrydagaand Boereorkeste by die arena by Emerald Resort & Casino optree as deel van Rocking the Vaal.

Rocking the Vaal 2025
Vanjaar se hooffees vind op 29 Maart by die Emerald Resort & Casino plaas.
Daar gaan dan gepoog word om nog twee nuwe rekords op te stel:
* Langste kebab: huidige rekord is 2047.47m, en daar word gemik na ‘n 3 000m kebab/sosatie bou en braai.
Om dit te vermag gaan sowat 2 048 mense vanuit die gemeenskap gelyk braai aan die sosatie op die dag.
Daar gaan 2 ton vleis gebruik word en die uiteindelike sosaties sal na raming sowat 3 ton weeg.
* Grootste pot mieliepap: die huidige rekord is 1 000kg en daar word gemik na ‘n 2 000kg pot.
Die bestaande pot waarin daar verlede jaar potjiekos gemaak is, gaan hiervoor ingespan word.
Die rekordpogings sal ook ‘n liefdadigheidsdoel dien.
Na verwagting sal sowat 12 000 mense kos ontvang.
Wat die vermaak betref, gaan daar vanjaar 12 nasionale kunstenaars optree.
