Groot verligting toe vermiste Peet opgespoor word
Daar was groot kommer toe Peet gister nie by sy werk opgedaag het nie en daar vandag ook nog geen spoor van hom was nie.
MEYERTON. – Groot kommer het die afgelope twee dae oor die veiligheid van mnr. Peet van Niekerk van Riversdale, Meyerton, geheers nadat hy op pad werk toe vermis geraak het.
Me. Monica Putter, ‘n buurvrou, het na sy verdwyning ‘n boodskap namens Peet se huismense op Facebook geplaas om te vra of daar iemand is met inligting oor wat van hom geword het. Hy het ten tyde van sy verdwyning ‘n blou oorpak, grys hemp en beige hoed aangehad. Hy het nooit by sy werk opgedaag nie, wat buite sy normale aard is, en geen verdere inligting oor waar hy hom bevind het, kon ingewin word nie.
Vaalweekblad het vroeër vanaand verneem dat ‘n man wat aan Peet se beskrywing voldoen, by die Vanderbijlparkse polisiestasie opgedaag en om hulp gevra het. Vaalweekblad het Rescom Sekuriteit se hulp ingeroep om te gaan vasstel of dit dalk Peet is.
Cjay Botes van Rescom se CCTV-kontrole het dadelik aangebied om ‘n sekuriteitsbeampte uit te stuur. ‘n Rescom-reaksielid, mnr. Frans Grové, het daarna van die polisiestasie af gerapporteeer dat dit inderdaad Peet was. Hy was baie dors en uitgeput, maar andersins ongedeerd.
Frans het by Peet gebly en hom ondersteun totdat ‘n Midvaal-raadslid, mnr. Gerrit Viljoen, hom kom haal het. Hulle is nou op pad terug na Peet se huis in Riversdale.
Die omstandighede rondom Peet se verdwyning en hoe hy in Vanderbijlpark beland het is nog onbekend, maar hy is nou veilig, en dit is al wat tel. Baie dankie aan Rescom Sekuriteit en almal wat besorgd was oor Peet.
