Local newsNewsNews

‘Die water voldoen nie aan die standaard vir drinkwater nie’

PARYS - Die AfriForum-tak van die dorp het opnuut die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit daarop gewys dat die munisipale water in die gebied nie geskik is vir menslike gebruik nie.

Die burgerregteorganisasie het verlede week toetse laat doen nadat talle klagtes ontvang is oor die swak watergehalte.

Die toetse, wat deur ’n geakkrediteerde laboratorium gedoen is, toon dat die water fekale kolivorme bakterieë bevat wat siektes soos ingewandskoors (oftewel buiktifus) kan veroorsaak.

Die water voldoen nie aan die nasionale standaard vir drinkwater nie, dus moet dit nie deur mense gebruik word nie, voer hulle aan.

AfriForum wag nóg op uitspraak in ’n hofaansoek oor dié krisis.

Intussen weier die Ngwathe-munisipaliteit enigiemand toegang tot die dorp se waterwerke, ondanks ’n interdik wat vroeër deur AfriForum bekom is, wat bepaal dat toegang tot die waterwerke nie geweier mag word nie.

Die munisipaliteit was veronderstel om verlede jaar die eerste fase opgraderings aan die waterwerke te voltooi, maar AfriForum word vir maande reeds van die werke af gehou, wat dit onmoontlik maak om te bevestig of die opgraderings wel aangebring is.

“Indien die munisipaliteit wel daarin geslaag het om die opgraderings te doen, maak dit duidelik geen noemenswaardige verskil nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die watersituasie word boonop vererger deur die gereelde kragonderbrekings op die dorp.

Dae gaan soms verby voordat inwoners se kragtoevoer herstel word.

Uiteraard kan daar in hierdie tyd nie eens water gepomp word om toilette mee te spoel nie. Sedert 1 Januarie was daar reeds vyf kragonderbrekings op die dorp.

“Telkemale het die Ngwathe-munisipaliteit AfriForum en ander gemeenskapsorganisasies soos Save Ngwathe se hulp van die hand gewys – nee, eintlik dié hand weggeklap. Intussen is dit die gemeenskap wat daaronder ly,” sê Pretorius.

Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, beklemtoon hierdie situasie die feit dat die munisipaliteit geensins die inwoners se beste belange op die hart dra nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button