Local newsNewsNews

Kankerlyers lyk goed en voel beter

Look Good Feel Better is 'n nie-winsgewende organisasie wat 'n verskil in kanker pasiënte se lewens maak, ook in die Vaaldriehoek. Lees meer...

VEREENIGING – Monique Taylor, ‘n voormalige Mrs SA prinses, se paaie met die nie-winsgewende organisasie Look Good Feel Great (LGFG) het in 2021 gekruis.

Dié organisasie wat met die ondersteuning van die bekendste kosmetiese huise skoonheidswerkswinkels aan kanker pasiënte wêreldwyd bied, het dadelik haar hart geraak.

Monique Taylor bied gereeld werkswinkels vir kankerpasiënte aan. Die eerste een vir die jaar vind 27 Februarie plaas.

“In 2021 het hul my genader om MC van hul gholfdag in Durban te wees. Ek het dit in Oktober 2022 weer gedoen en daarna betrokke geraak by die werkswinkels,” vertel sy.

In die Vaaldriehoek bied LGFG ten minste sewe werkswinkels, afgewissel vir mans en vrou pasiënte, aan by Mediclinic Vereeniging.

“Tydens so ‘n sessie, wat gratis aangebied word, kry die vroue ‘n geskenkpak wat alles van grimering tot by velsorgprodukte bevat. Hulle word dan geleer hoe om vol gesig grimering te doen en selfs hoe om vals oogwimpers aan te sit.”

Monique sê dis ongelooflik om die verskil in die vroue te sien voor en na die byeenkoms.

“Elkeen is besig met kankerbehandeling. Hulle is moeg. Baie het al hul hare, ooghare en wimpers verloor. Hulle voel nie goed nie. Ons kry hul gewoonlik binne 10 minute aan die lag.

“Die hospitaal is ook baie tegemoetkomend en skenk altyd koffie/tee en eetgoed. Die vroue kry dan die kans om met mekaar te kuier en stories uit te ruil.”

LGFG volg ‘n holistiese beleid en probeer raad gee met betrekking tot velsorg, grimering en hoe om aan te hou en uit te hou.

By die manne se werkswinkels kry hul weer hand maserings en ‘n geskenkpak met velsorgprodukte.

“Dis vir die manne moeiliker om te ontspan en net te gesels, maar baie vertel ons na die tyd hul wens hulle het vroeër een bygewoon,” sê Monique.

Tans word daar by die 5000 werkswinkels jaarliks in Suid-Afrika aangebied. Alhoewel die groot kosmetiese huise die produkte skenk, vra Monique vir skenkings van oorstokkies, cotton disks, wet wipes en bokse snesies.

“Ons benodig ook altyd vrywilligers wat kan help met die grimeringsessies. Vrywilligers ontvang opleiding. Indien iemand sou belangstel, kan hul my kontak by 072 398 7767.”

“Elkeen van hierdie werkswinkels is spesiaal. Ons lag lekker, kuier lekker, stort trane saam en ons maak seker elkeen het die tyd van hul lewe.”

Vir meer inligting oor die LGFG besoek gerus www.lgfb.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button