Local newsNewsNews

Sasolburg se beskermheer ken geen keer

Sal aanhou veg tot hy sy laaste asem uitblaas

SASOLBURG – Sy passie vir Sasolburg sal saam met hom graf toe gaan. So sê DA-raadslid, Jacques Barnard (50) trots.

Hy is meer as net ‘n raadslid. Hy is ‘n beskermheer van Sasolburg. Hy kan net sowel Ghostbusters se tema-liedjie as sy ringtone laai. Want: “If there’s something strange in your neighbourhood, who you gonna call? Jacques Barnard!

DA-raadslid Jacques Barnard

Mens kan tong-in-die-kies grappies maak, maar soms kan dinge net te veel raak. “Ek lag nou daaroor maar in die begin was dit baie erg.

‘n Raadslid se foon mag nooit af wees nie. Mens kry dosyne boodskappe drie uur in die oggend op WhatsApp.

Dit eis sy tol op my familie, omdat mense nie altyd tyd respekteer nie.” Maar hy doen dit als met ‘n glimlag op sy gesig.

Die Barnards se wortels is diep in Sasolburg geanker. Jacques en sy ma bly al 50 jaar in dieselfde huis. Sasolburg leef binne in hom.

“Dis absoluut my gemeenskap. My hele familie bly in Sasolburg. Slegs my ma se broer bly in Phalaborwa,” vertel hy.

Sy lewe word op die GFW-beginsels geskoei. God, familie en werk. Presies in daardie volgorde van belangrikheid. Hy het al op verskeie finansiële komitees op munisipale en provinsiale vlak gedien.

Hy is egter die argitek en slagoffer van sy eie sukses. “Dit is nie altyd moontlik om gereeld opdaterings oor kragonderbrekings en water probleme te gee nie, maar ek probeer altyd om so gou moontlik terugvoer te gee.”

Volgens hom is dienslewering in Sasolburg op die laagstepunt ooit. “Dis vir my baie belangrik dat die mense moet weet wat aangaan, ongeag vir wie jy stem. Daar is baie wat agter die skerms plaasvind.

Baie vergaderings, baie verslae wat opgestel en nagegaan moet word.” Hoewel hy homself die afgelope agt jaar as ‘n steunpilaar in die gemeenskap gevestig het, het hy nooit politiek as beroep oorweeg nie.

“Politiek het my gekies Ek was altyd ‘n gemeenskapswerker. Ek het projekte gedoen in ons gemeenskap en ook vir ander dorpe in nood. Ek is toe genader deur mense wat gesê het, hulle benodig my in die raadsaal.

Ek sal graag vir solank as wat ek kan vir die gemeenskap in die raadsaal wil baklei. Soos iemand vir my gesê het. Jy is nou publieke eiendom,” vertel hy. Volgens Jacques moes hy vinnig ‘n dik vel ontwikkel het vir aanslae op sosiale media.

“Ek probeer almal met nederigheid behandel van die publiek tot die munisipale werkers. Mens kan nie altyd almal gelukkig hou nie. Mens kry soms dreigoproepe en word sleggesê, maar daar is ook baie dankies wat dit alles die moeite werd maak.”

Hoewel daar ‘n tyd is om soos ‘n tier in die raadsaal te baklei, is sy aanslag met sagte woord en wedersydse respek baie effektief.

“Ek wil solank as wat ek asem haal die gemeenskap in die raadsaal verteenwoordig en dien. As ek een persoon kan help per dag is dit die moeite werd.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button