Vier kerse…. D.F. onthou
Vandag is die 6de herdenking van die Driehoek brugramp. Ons dink steeds aan die slagoffers se familie, vriende en almal by die Hoërskool Driehoek.
VANDERBIJLPARK – In die voorportaal van die Laerskool D.F. Malherbe brand daar die afgelope week vier kerse op twee wit harte voor vier foto’s.
Die laggende gesigte van Royden Olckers, Marnus Nagel, Marli Currie en Jandré Steyn.
‘n Stille herdenking aan dié voormalige D.F-leerders wie se lewens ses jaar gelede kortgeknip is.
1 Februarie 2019. Vanderbijlpark sal nie vergeet nie. Dis nou ses jaar na daardie verskriklike oggend toe ‘n brug gebreek en op leerders geval het by die Hoërskool Driehoek.
Vir Laerskool D.F. Malherbe was die skok groot, drie van die oorledenes was net die vorige jaar nog by hulle in die laerskool, en almal kon nog Royden onthou wat in 2019 sy matriekjaar sou doen.
“Meneer, wat is die?” vra ‘n meisie in graad drie die skoolhoof, Willem Botha, terwyl sy na die kerse en foto’s kyk.
“Onthou jy toe die brug by Driehoek geval het?” Sy knik haar kop instemmend. “Die foto’s is van die kinders wat almal hier by ons op laerskool was wat daardie dag oorlede is,” verduidelik hy geduldig.
Sy kyk met eerbied na die foto’s en spring vrolik weg na haar maats toe.
Die joernalis vroetel met die kamera in haar hand. Die skoolhoof tuur in die verte.
Uiteindelik verbreek hy die stilte, “ons sal Vrydag weer ‘n krans by Driehoek gaan lê. Dis Saterdag….”
1 Februarie. Ons praat nie meer so maklik daaroor nie, maar ons onthou.
