Local newsNews

Dié ‘wurms’ dui nie op besmette drinkwater nie

Inwoners van die Vaaldriehoek het onlangs gerapporteer dat hulle lewende wurms in hul munisipale water sien dryf. Maar wat is die oorsprong van dié grillerige insekte regtig?

DENEYSVILLE. – Munisipaliteite is dikwels onder skoot oor die swak gehalte van inwoners se drinkwater, maar die “wurms” wat onlangs deur sommige in hul kraanwater opgemerk is, is dié keer nie die stadsrade se skuld nie.
Inwoners van Deneysville sowel as ander dorpe in die Vaaldriehoek, het onlangs met skok op Facebook gerapporteer dat hulle lewende wurms in hul munisipale water sien dryf. Dit is veral gedurende die afgelope hittegolf gereeld in die Vaaldriehoek gerapporteer.

“Hoe veilig is ons drinkwater as ons nou al wurms uit ons kraanwater moet sif?,” wou een van die lesers weet.
Volgens die uitgebreide inseknavorsingsdiens, All About Worms, is die wurms bloot larwes van ‘n dreinvlieg, ook bekend as ‘n motvlieg. Die wyfie lê gewoonlik 30 tot 100 eiers by die opening van huiskrane en dreine, en word veral aangetref in badkamers wat lank ongebruik was of nie gereeld skoongemaak word nie. Wanneer ‘n kraan dan oopgemaak word, kom die larwes saam met die water uit.

Inwoners kan bleikmiddel rondom en binne-in krane en die oorlooppype van wasbakke en baddens spuit om die larwes dood te maak. Gebruik dan warm water om die bleikmiddel weg te spoel. Maak seker dat daar nie staande water in kombuis- of badkamerwasbakke is nie en hou dreine skoon, omdat voedselaanpaksels ‘n voedselbron vir die larwes is.
Daar is wêreldwyd meer as 2 600 soorte dreinvlieë, maar die mees algemene in Suid-Afrika is die Clogmia albipunctata. Die larwe is 4 tot 5 mm lank, met ‘n swart kop. Dit word gevolg deur ‘n papie-fase. Die volwasse dreinvlieg breek uiteindelik deur sy omhulsels en verskyn dan op die wateroppervlak.

Hoewel dreinvlieë deur baie as ‘n pes beskou word, hou hulle nie regtig ‘n gesondheiddsgevaar vir mense of diere in nie en beskadig niks in die huis nie. Dit bly egter ‘n grillerige ervaring om die larwes in mens se drink- of badwater te sien, maar gelukkig is dit ‘n probleem wat met gereelde en doelgerigte skoonmaak sal verdwyn.

Die volwasse dreinvlieg (Clogmia Albipunctata) is sowat 2mm lank en dus heelwat kleiner as ‘n gewone huisvlieg. Foto: Wikipedia
Mev. Alfrieda Richter van Deneysville het onlangs dié ‘wurms’ in haar drinkwater ontdek. Volgens insekkenners is dit skadelose larwes van die dreinvlieg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button