Klein Mieke (5) se groot nieroperasie is om die draai
Gebede en donasies gevra vir klein Mieke Prinsloo (5) wie se een nier verwyder moet word. Die mediesefonds dek nie al die kostes nie en die operasie sal haar lewe ten goede verander.
VANDERBIJLPARK – Sy is die jaar in graad R aan die Laerskool Eligwa. Sy het al aan die huissport deelgeneem, geniet skool baie en ja, sy het ‘n kêrel.
Klein Mieke Prinsloo (5) kan nie wag vir Valentynsdag nie, want sy het reeds sy geskenk reg.

Ongelukkig vir Mieke moet sy voor die hartjiesdag ‘n groot operasie ondergaan, haar een nier moet verwyder word.
Soos Vaalweekblad verlede jaar berig het, sukkel die dapper meisie al vir jare met blaasontstekings, infeksie en pyn. Daar is bevind dat haar een nier onderontwikkeld is en die ander te groot.
Sy is ook met Graad 4 vesicoureterale reflux gediagnoseer. Dit beteken dat die urine terugvloei na haar blaas toe en derhalwe ontsteking veroorsaak.
Intussen is daar verdere toetse gedoen en het ‘n spesialis in Vereeniging bevind dat haar een nier onherstelbaar beskadig is en dat dit verwyder moet word.

“Mieke het ‘n moeilike Desember agter die rug. Sy is kort-kort siek en is nou al weerstandig vir die meeste antibiotika. Op die stadium is daar slegs een soort wat sy kan gebruik. Haar immuniteit is ook baie laag,” het haar ma, Ilse, in ‘n telefoniese onderhoud vertel.
Die nierverwyderingsoperasie vind 7 Februarie plaas. Die spesialis was gelukkig bereid om die operasie te doen by ‘n hospitaal in Vereeniging wat op hul mediesefonds se netwerk gelys is.
Die spesialis is nie op die netwerk gelys nie en hulle sal derhalwe 35% van sy kostes uit hul eie sak moet verhaal.
“Ek is baie bekommerd oor die groot operasie wat sy moet ondergaan. Die dokter sal dit nie laparoskopies kan doen nie en sy sal ‘n baie lang sny hê. Hulle sal nie net die nier nie, maar ook die nierpypie na die blaas toe moet verwyder. Mieke gaan ten minste ‘n week in die hospitaal wees,” sê Ilse.
Mieke self is min gepla oor die groot operasie. Haar ouers het die proses so ver as moontlik vir haar verduidelik, maar al wat sy sê is dat sy net haar oë gaan toemaak en sy wil net weet of sy na die operasie dan gesond sal wees.
Ilse sê Mieke is baie bly as sy hoor almal dink aan haar en bid vir haar. Sy is glad nie bang vir dokters, hospitale of inspuitings nie en glimlag steeds breed al moes sy al deur soveel pyn in haar kort lewe gaan.
Om ekstra mediese onkostes te dek het Ilse ‘n Back-a-Buddy rekening op Facebook begin. Enige donasies kan deur www.backabuddy.co.za/campaign/ mieke-prinsloo gedoen word of direk in ‘n spesiale spaarrekening inbetaal word.
Rekening besonderhede: Naam: Ilse Prinsloo Bank: Capitec Rekeningnommer: 2170661065 Verwysing: Mieke
