Local newsNews

Kosbare ring twee keer verloor… en weer gevind!

'n Leseres vertel van haar ongelooflike ervaring toe sy haar duur diamantring twee keer verloor het en teen alle hoop in, weer teruggekry het.

 

Vaalweekblad het onlangs berig oor sakevrou Amanda Brits van Meyerton, wat een van haar kosbare goud-en-diamantoorbelle wat ‘n geskenk van haar oorlede ma was, verloor het. Sy het glad nie geweet waar dit afgeval het nie, maar het uiteindelik vermoed dit kon dalk in Makro Vaal, waar sy die oggend was, of op die sentrum se parkeerterrein verloor het. Dit was toe inderdaad so. ‘n Werknemer van Makro het dit die volgende dag wonder-bo-wonder op die groot terrein gevind en kon dit aan Amanda teruggee.

Nadat Vaalweekblad hieroor berig het, het verskeie lesers laat weet dat hulle ook waardevolle artikels van groot sentimentele waarde verloor en weer gevind het. Hier vertel Heleen Smit Henstock van haar ervaring:

“Ek is so bly vir Amanda Brits dat haar verlore oorbel gekry is! Ek weet hoe dit voel! Ek het my .5 karaat-diamantring twee keer verloor. Die eerste keer in Piet Retief se woonwapark. Ek het in die kar gesit en my ring afgehaal en hom op my skoot gesit om room aan my hande te smeer. Toe staan ek op en vergeet van die ring. Ek het eers in St Lucia agtergekom my ring is weg.
Dit was ‘n nagmerrievakansie van drie weke vir my. Op pad terug huis toe het ek gaan soek waar ons oornag het en wonderbaarlik my ring daar in die gras gekry!
“Ek het toe presies dieselfde ding gedoen in Rissikstraat, Sunnyside. My ring het langs my kar in die straat geval waar ek geparkeer het. Ek het gaan eksamen skryf en halfpad deur die eksamen agtergekom my ring is weg. Ek het dadelik opgespring en kar toe gehardloop en daar kry ek hom in die straat!
“Gelukkig kan ek die ring nie weer verloor nie want ek het hom nie meer nie. Ek het hom verkoop en vir my ‘n kar met die geld gekoop!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button