Brandslagoffer sterk nou tuis aan
VANDERBIJLPARK - "My pa doen onder omstandighede goed. Hy word tans tuis versorg, maar hy kan steeds nie sy bene buig nie en weens die beroerte wat hy gehad het wil sy een been nie altyd mooi saamwerk nie."
So vertel Bernadine Muller oor pa Herman Putter se vordering.
Herman het in November 2023 ernstige brandwonde tydens ‘n fratsongeluk opgedoen.
Daar was telkemale vir sy lewe gevrees en hy was vir baie lank in die hospitaal voordat hy verlede jaar na ‘n rehabilitiasie sentrum oorgeplaas is.
Gedurende die tyd het hy verskeie terugslae beleef, waaronder ‘n beroerte.

Herman se goeie vordering het egter momentum begin kry toe sy mediese fonds toestemming gegee het dat hy vir ‘n paar weke in Sub Acute 360, die nuwe rehabilitasie-eenheid in Vanderbijlpark, opgeneem mag word vir terapie.
Na vyf weke van intense, daaglikse oefeninge en terapie het Herman op 23 Oktober sy eerste tree met ‘n loopraam gegee.
Nou sorg sy tuisversorger dat hy daagliks oefeninge doen.
“Hy probeer elke dag sy beste en ons is dankbaar dat hy nie opgee of moed verloor nie”.
Herman was op 15 Januarie vir ‘n opvolgbesoek by Dr Ismail Cassimjee (‘n vaskulêre chirurg) om vas te stel of sy bloedsirkulasie beter is.
“Die dokter is tevrede en hy hoef nie weer vir ‘n opvolg besoek te gaan nie, tensy hy pyn ervaar. Ons is so dankbaar vir die goeie nuus, want ons wil regtig nie weer hê hy moet teater toe gaan nie,” sê Bernadine.
Herman se gesin is tans weer besig met ‘n fondsinsameling sodat hy die nodige fisioterapie kan kry en ander mediese uitgawes te betaal.
“My pa is ‘n yster en ons held. Die Here het groot planne vir hom. Ons glo dat 2025 sy jaar gaan wees en dat hy binnekort sal begin loop sonder pyn,” sluit Bernadine af.
WEN ‘n seevakansie
Lesers wat Herman wil ondersteun kan boonop die kans staan om ‘n seevakansie te wen by die pragtige Villa del Sol 2 vir 6 persone, van 24-28 Maart .
Kaartjies is R100 per looitjie en die trekking vind op 28 Februarie plaas.
Almal kan mos doen met ‘n bietjie vitamiene “see.”
