Ek sê maar net… Wanneer ver familie kom kuier
RUBRIEK - Is mos lekker as die ver bly familie 'n slag nader aan't huis 'n draai maak. Lees meer...
RUBRIEK – Ons het almal familie wat in ander lande nesskrop. Alhoewel video oproepe en sosiale media help om in verbinding te bly, is daar darem niks wat by regte kuier uitkom nie.
Laat weet my Twin Miempie (ag ja, okay, my niggie, maar wraggies ons lyk dieselfde) my hulle is in Suid-Afrika. Al die pad van Swede af.
Ons maak dag en datum vas om hulle by my tannie in Rustenburg te ontmoet. My geagte redakteur verstaan en met ‘n dag verlof agter my naam is ons reg vir operasie groot kuier.
Maandagoggend is die uwe al voor daglig op en aan die gang. Op sigself ‘n wonderwerk want ek is nie ‘n oggendmens nie.
Vlak na 07:00 voel ek lus om soos my Ouma Bessie altyd gesing het, met die wapad is my woning, weg te val. Ek doen dit gelukkig nie. Sang is nie my beste talent nie.
So bietjie meer as twee en ‘n half uur later stop ons voor die huis. My Twin is reeds buite. Ek hop soos ‘n tiener uit die motor en kry uiteindelik die tipiese Bruinette-groot druk.
Ons het mekaar hier voor Covid laas in lewende lywe gesien. My tannie is doenig agter die kospotte.
Johan en Tommy van Swede gesels kopstukke in Ingels. En as ons almal saampraat is dit ‘n mengelmoes van Afrikaans, Swenska en die Rooitaal. Kuier word daar gekuier.
Te gou gaan die tyd verby. Word ons geroep om die bakke tafel toe te dra. Regte boerekos. My Twin spring op om ‘n foto te neem. “My eerste bord kookkos wat my Ma gemaak het.”
“I am matkoma,” beduie Tommy na ‘n rukkie. “Mat beteken kos in Swenska en matkoma bedoel jy is nou moeg geëet,” gee Twin ons ‘n vinnige taalles.
Daar word stories geruil en baie gelag. Te gou moet ons groet. Dis ‘n lang, nou pad huis toe. Nie om in die donker te ry nie.
Eers wil ons foto’s hê. Die manne staan gedwee nader met die selfone. “Vollengte een ook. Head to toes,” praat Twin vir Tommy aan.
“Maak gou, ons staan halfpad in die son,” kla ek.
“Hierdie tweeling is erger as die ander tweeling,” lag my Tannie Netta met ‘n gedagte aan haar en haar (regte) tweelingsus.
Dan kan ons dit nie langer uitstel nie. ‘n Laaste Bruinette-groot druk en dan is die dag verby. Gaan duisende kilometers ons weer vir lank skei, maar in my hart sal my Twin altyd bly.
