Oud-Valie bemeester die regte formule as uitblinker
VANDERBIJLPARK - Ingenieurswese en tegnologiese innovasies was onlangs die besprekingspunt in 'n Nederlandse tydskrif. Vir die berig is daar met invloedryke mense in Nederland gesels. Gebore en getoë Valie, Danielle Smit, was een van die mense op wie die kollig helder geskyn het.
Danielle het haar laerskool loopbaan aan die Laerskool Kollegepark voltooi en in 2014 aan die Hoërskool Transvalia matrikuleer.
Boonop is die slimkop mooi op die oog en sportief. Sy het dit geniet om as kaptein van Valia se eerste hokkiespan uit te draf.
Na skool is sy en haar broer ,WP Niemandt, Pukke in Potchefstroom toe waar sy meganiese ingenieurswese studeer het.
In 2020 het sy by Glencore Western Chrome Mine haar internskap begin en Mei 2021 het sy haar loopbaan (vrou alleen) as Reliability Ingenieur by Kamoa Copper Myn in die DRK begin.
Sy het intussen liefde gevind en in Januarie 2024 emigreer sy en haar man Ryno na Nederland, waar albei as ingenieurs by SPIE Nederland werk.
Hulle baba dogtertjie Milana is in November verlede jaar daar gebore.

Haar broer, WP en sy vrou Chemoné, het aan die begin van Januarie 2025 ook na Nederland emigreer. Hy is ‘n chemiese ingenieur en werk vir ‘n ander maatskappy ‘n klipgooi van ousus af.
Die veld waarin Danielle intussen vir haarself naam maak is slim-instandhouding. Dit sluit alles in van proses-optimalisering, masjinerie betroubaarheid tot proaktiewe instandhouding.
Danielle spesialiseer in hoëtegnologie-industriële vooruitgang. Sy fokus op optimalisering van tegnologie en prosesse om sodoende produksiekapasiteit te maksimeer en die ekologiese voetspoor te beperk.

“My doel? Ek wil met my werk ‘n verskil maak vir toekomstige generasies. Die volgende generasie waar hopelik meer vroue ingenieurswese en tegnologie sal kies. Dit word sterk aanbeveel,” sê Danielle.
Vir nou is Nederland die Smits se vyf-jaar-plan. “Na vyf jaar kan ons inburgering doen en ons Europese Paspoorte kry. Daarna sal ons weer besluit of ons wil aanbly of aanbeweeg,” sê Danielle.
Hulle is gelukkig om ook ander familie en vriende in Nederland te hê. Ryno se sussie en haar man, en nog vriende wat saam met hulle daar studeer het, kuier gereeld saam.
“Ons woon ook Suid-Afrikaanse geleenthede by soos Afrikaans is Lekker, wat help om die verlange beter te maak. Ons is ook bevoorreg dat ons ouers gereeld kom kuier,” sê Danielle.
Een van die Smits se gunsteling stokperdjies in Nederland is om snuffelmarkte by te woon, en hulle toer ook graag.
“Een van my doelwitte is om 30 lande te sien voor ek volgende jaar 30 word. Ek het nog ses om te gaan en ek glo ek sal dit die jaar kan afmerk,” sê Danielle.
Hulle toer egter nie alleen nie. Hul baba dogtertjie was reeds in vier lande, en hul twee katte (Pampoen en Patat) het ook al ‘n paar stempels in hulle “pet passports”.


