VLU Alpha-tak presteer nasionaal
Die Vaaldriehoek se eie VLU Alpha Tak het besonder goed gevaar by die VLU se Nasionale Konferensie. Lees meer...
VANDERBIJLPARK – Verlede jaar het die dames van die Vroue Landbou Unie (VLU) die uitdaging aanvaar om aan die Miami-Kinkelkokkompetisie deel te neem.
Mev. Rina de Klerk, voormalige voorsitter van die VLU Alpha-tak, het die kans aangegryp om ‘n brood te ontwerp.

Die enigste vereiste was dat die brood twee Miami-produkte moet bevat. “Ek het ‘n resep uitgedink van ‘n ronde brood met ‘n spesiale sous. Dit gebak en gehoop vir die beste,” vertel sy.
Die brood het met die louere op tak- en konferensie vlak weggestap en sy het ‘n tweede plek behaal by die provinsiale konferensie in Bloemfontein.
Daarmee het sy deurgedring na die SA’s wat einde Oktober in Limpopo gehou is.
Die VLU se nasionale konferensie vind elke derde jaar plaas en om enigsins items te hê wat kwalifiseer vir die SA’s verg harde werk en word as ‘n groot eer beskou.
“Ons Alpha-tak het ses items gehad by die SA’s. Ina van Rensburg se masjien borduurwerk het die beste gevaar en ‘n algehele eerste plek in die afdeling behaal,” sê Rina trots.
Alhoewel sy nie ‘n eerste plek met haar brood behaal het nie, was sy wel onder die finaliste en het sy ‘n krat produkte van die kompetisie borg gewen.
“Dit was omtrent ‘n gedoente om die sware krat gelaai en afgelaai te kry, maar ons dames het reggekom,” lag sy.
