Oor poppe, tuinmense en vetplante
Dit het begin as 'n manier om depressie teen te werk, maar vandag is haar poppetuin met vetplante en "tuinmense" haar trots. Lees meer...
VEREENIGING – Dis moeilik om te glo dat Tersia Venter vir jare nie ‘n plant aan die lewe kon hou nie. “Ek het net nie groen vingers nie,” verklaar sy.
Haar tuin op die stadium is egter vol vetplante wat oral groei. ‘n Hele paar staan in popkop-potte.

Popkop? Inderdaad. Dit het alles na Covid begin. Tersia het lang Covid gekry en dit het haar gedaan gelaat. Boonop was sy vuisvoos na maande van kospakkies aandra agter baie maal ondankbare mense aan.
Mense ken Tersia as die een wat ander altyd help, hetsy om speelgoed, klere of kos uit te deel. Sy is ook altyd doenig om diere se lewe makliker te maak.

Juis daarom kry sy gereeld sakke met ou speelgoed in. “Al die speelgoed kan nie altyd uitgedeel word nie. Ons kry baie maal poppe sonder ledemate of die gesiggies en lywe is so ingekleur met alles van naellak tot kokiepenne dat dit nie skoon kan kom nie.”
“Ek was op ‘n laagtepunt in my lewe nadat ek my goeie gesondheid en my werk verloor het gedurende die Covid-tydperk. Depressie het aan my hakskene gehap en ek het besluit om ‘n plan te maak. Toe sny ek ‘n gehawende pop se kop oop en plant ‘n vetplantjie.

“Ek onthou ek het met die plantjie gepraat en gevra dat dit asseblief moet groei, want ek wou beter voel.”
Iets het gewerk, want die plant het mooi gegroei en so ook al die ander wat sy van toe af geplant het. Die poppe het in al hul verskillende vorme blyplek in die tuin gekry.
Party is van kop tot tone in helder kleure geverf, ander dien as blompotte. Vir elkeen het sy ‘n storie.

So ook haar tuinmense. Dis die mannekyne wat nou aangetrek in die voortuin pronk, die twee onder die sambreel wat lyk of hul tee drink en dan Madame en Oumatjie.
“Hulle is gelukkig hier in die tuin en is geselskap. Wanneer ek omgekrap is, kom gesels ek met hulle. Daar in die een hoek is die kruis met al my honde wat al op die erf gesterf het se name. Die bankie is spesiaal daar vir my.”
Tussen al die poppe is daar ook een wat lyk asof die kop stadig maar seker kraak en ween om van ‘n aangeverfde masker ontslae te raak.
“Dis die een wat ek reg na die Driehoek brugramp gemaak het,” sê sy en tuur anderkant toe. Die res is net te veel om op te noem.

Daar is alles van klein poppies sonder ledemate tot by die boemelaarmense en die twee spookpoppe. Elkeen anders. Elkeen uniek.
Want, Tersia is ‘n kunstenaar wat anders dink en net skouers optrek vir almal wat haar besonderse versameling van saamgevatte emosies agter al die poppe nie kan verstaan of waardeer nie.
