News

Oor poppe, tuinmense en vetplante

Dit het begin as 'n manier om depressie teen te werk, maar vandag is haar poppetuin met vetplante en "tuinmense" haar trots. Lees meer...

VEREENIGING – Dis moeilik om te glo dat Tersia Venter vir jare nie ‘n plant aan die lewe kon hou nie. “Ek het net nie groen vingers nie,” verklaar sy.

Haar tuin op die stadium is egter vol vetplante wat oral groei. ‘n Hele paar staan in popkop-potte.

Tersia by die tuinmens, Oumatjie. Sy het Oumatjie self gemaak. Foto’s: Gerda Bruinette

Popkop? Inderdaad. Dit het alles na Covid begin. Tersia het lang Covid gekry en dit het haar gedaan gelaat. Boonop was sy vuisvoos na maande van kospakkies aandra agter baie maal ondankbare mense aan.

Mense ken Tersia as die een wat ander altyd help, hetsy om speelgoed, klere of kos uit te deel. Sy is ook altyd doenig om diere se lewe makliker te maak.

‘n Gedeelte van haar pop-tuin versameling voor die agterdeur. Elkeen het ‘n storie.

Juis daarom kry sy gereeld sakke met ou speelgoed in. “Al die speelgoed kan nie altyd uitgedeel word nie. Ons kry baie maal poppe sonder ledemate of die gesiggies en lywe is so ingekleur met alles van naellak tot kokiepenne dat dit nie skoon kan kom nie.”

“Ek was op ‘n laagtepunt in my lewe nadat ek my goeie gesondheid en my werk verloor het gedurende die Covid-tydperk. Depressie het aan my hakskene gehap en ek het besluit om ‘n plan te maak. Toe sny ek ‘n gehawende pop se kop oop en plant ‘n vetplantjie.

Die pop met soveel emosie het Tersia ter nagedagtenis van die Driehoek brugramp gemaak.

“Ek onthou ek het met die plantjie gepraat en gevra dat dit asseblief moet groei, want ek wou beter voel.”

Iets het gewerk, want die plant het mooi gegroei en so ook al die ander wat sy van toe af geplant het. Die poppe het in al hul verskillende vorme blyplek in die tuin gekry.

Party is van kop tot tone in helder kleure geverf, ander dien as blompotte. Vir elkeen het sy ‘n storie.

Madame en haar hondjie was die eerste van die tuinmense wat hul sit in die tuin gekry het.

So ook haar tuinmense. Dis die mannekyne wat nou aangetrek in die voortuin pronk, die twee onder die sambreel wat lyk of hul tee drink en dan Madame en Oumatjie.

“Hulle is gelukkig hier in die tuin en is geselskap. Wanneer ek omgekrap is, kom gesels ek met hulle. Daar in die een hoek is die kruis met al my honde wat al op die erf gesterf het se name. Die bankie is spesiaal daar vir my.”

Tussen al die poppe is daar ook een wat lyk asof die kop stadig maar seker kraak en ween om van ‘n aangeverfde masker ontslae te raak.

“Dis die een wat ek reg na die Driehoek brugramp gemaak het,” sê sy en tuur anderkant toe. Die res is net te veel om op te noem.

Tersia by die “spookipop” wat ‘n wakende oog hou oor die hondebegraafplaas in die hoek.

Daar is alles van klein poppies sonder ledemate tot by die boemelaarmense en die twee spookpoppe. Elkeen anders. Elkeen uniek.

Want, Tersia is ‘n kunstenaar wat anders dink en net skouers optrek vir almal wat haar besonderse versameling van saamgevatte emosies agter al die poppe nie kan verstaan of waardeer nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button