Inspirasie Veelvoud – daar is hoop vir Afrikaanse musiek
Hy het reeds verskeie musiektoekennings agter sy naam en nou het hy ook sy eerste vertoning agter die rug.
VANDERBIJLPARK – Hy staan bekend as Inspirasie Veelvoud op musiek platforms, maar sy vriende ken hom as Nico van Vuuren.
Alhoewel hy die afgelope twee jaar verskeie gesogte Afri-Indie toekennings ingeryg het, moes sy aanhangers lank wag om hom in lewende lywe te sien.
Vrydagaand was dit uiteindelik tyd vir Nico se debuut vertoning by die Cock & Bull Pub. Sy aanhangers het bankvas gesit totdat die vertoning om 20:00 begin het.
Soos hy vooraf belowe het, het Nico slegs sy eie liedjies gesing, van sy groot treffer Witborskraai tot almal se gunsteling, Inspirasie Veelvoud. Teen die einde het mense selfs ‘n paar draaie op die dansvloer gemaak.
Nico se musiek spreek tot jou dieper menswees. Dit gaan verder as net die normale en sal goed weerklink in ‘n klein teater waar die gehoor nader kan sit, mooi kan luister en rustig ‘n glas rooiwyn kan geniet.
