Operasie skoonmaak in die CW-areas
Goed om te sien. Veldjies in die CW-areas van Vanderbijlpark word danksy gemeenskapshulp skoon gemaak.
VANDERBIJLPARK – Velde veral rondom skole in die CW-areas het ‘n bron van kommer geword. Nie net vertoon dit sleg op die oog nie, maar dis ook gevaarlik.
Sektor 1 se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het al hoe meer klagtes van die publiek ontvang oor mense wat beroof word omdat kwaaddoeners in die lang gras wegkruip.

Onlangs het ‘n kind op pad om aan atletiek deel te neem in ‘n stuk glas getrap in ‘n veldjie wat haar verhoed het om verder te kon deelneem.
Die GPF het saam met AfriForum Vanderbijlpark en die SAPD Sektor 1 en Landelik besluit om ‘n plan te maak.
Nadat verskeie borge beursies oopgemaak het, is daar Vrydagmiddag ‘n TLB (masjiengraaf) van Vaalpark gehuur en is daar saam met vrywilligers begin om skoon te maak.

Die operasie het oor die naweek van 7 Februarie geduur en teen Dinsdag, 11 Februarie was agt velde reeds skoon. GPF patrolleerders, gemeenskapslede, AfriForum lede en SAPD lede het ingespring en gehelp om van die papiere, bossies en lang gras ontslae te raak.
Die organiseerders het laat weet dat hul graag die projek sal wil uitbrei, nie net om die velde skoon te maak nie, maar ook om dit te onderhou. Dit sal slegs gedoen kan word in samewerking met die omgewing se inwoners en besighede.

Hulle het ook ‘n beroep gedoen op die munisipaliteit se Parkeraad en Bywet afdelings om aan boord te kom soos aanvanklik belowe is.
Van die besighede en organisasies wat oor die naweek gehelp het sluit in Heritage Plant Hire, Ajk Steel Merchants, Die Veiling, Kb Kidz, Buhle Student Accommodation, Willies Bakkery, Sekuriteit Sonder Grense, Hooligan Fabrications & Motorsport en Andre Bam Auto Clinic.
Vir verdere skenkings en/of navrae skakel gerus vir Dalena 079 509 7834 of Hendrik 062 425 3991.
