Dapper Mieke glimlag na nieroperasie
Mieke, mag jy spoedig herstel en sommer gou weer skool toe gaan.
VANDERBIJLPARK – Mieke Prinsloo (5) het 7 Februarie dapper aangedurf. Sy is die dag teater toe om haar een nier te verwyder nadat daar bevind is dat die nier onderontwikkeld is en nie funksioneer nie.
Haar ma, Ilse Prinsloo, het Vrydagaand laat weet dat die operasie goed afgeloop het. Mieke was baie moeg en het seer gehad, maar het steeds moedig vir die kamera geglimlag.
‘n Dag later het Mieke al begin eet en die volgende dag is die kateter en dreineringspypie uitgehaal.
Almal het verwag dat sy ‘n week in die hospitaal sou deurbring, maar sy het so goed herstel dat sy die Maandag ontslaan is.
Ilse het in ‘n WhatsApp boodskap laat weet: “Sy het nog redelik seer as sy bietjie rond beweeg en afbuk, maar sy is so resilient!
“Sy moet nog twee weke by die huis bly, en sien die dokter weer die 21ste. Hy sal dan vasstel of sy kan skool toe gaan. Baie dankie vir almal se boodskappe. Sy voel so spesiaal.”
