Hy is gebore om motorfiets te ry
Ontmoet Rocco Kapp, die 11-jarige ry motorfiets dat die stof so staan.
VANDERBIJLPARK – Rocco Kapp (11) ‘n graad 6-leerder aan die Laerskool Emfulenipark en motorfietse gaan saam soos koffie en beskuit. Van kleinsaf het hy sy ma, Claudine, gevra vir ‘n motorfiets.
Uiteindelik het hy ‘n klein model in ‘n winkelkompetisie gewen. “Die oomblik toe hy op daardie motorfiets klim, kon ons sien hy is ‘n ander kind. Dit is sy passie,” vertel sy ma.

Niemand anders ry motorfiets in die familie nie, maar vir Rocco is dit sy alles. Teen Desember 2023 het hy ‘n 65cc gekry en verlede jaar het hy die eerste keer aan ‘n ontwikkelingsreeks deelgeneem.
“Die 65cc was te stadig en baie gou te klein. Nou het ek ‘n 85cc,” beduie hy opgewonde. Hierdie jaar durf hy die Mayfair Gearbox Inland MotoCross Kampioenskap aan.
Die eerste van agt rondtes het Saterdag plaasgevind en Rocco het ‘n derde plek behaal. Voorwaar ‘n merkwaardige prestasie vir ‘n nuwe ryer in so mededingende sport.
Alhoewel Claudine se hart soms wil gaan staan met Rocco op die baan, leef hy vir die spoed en adrenalien.

“Ek het al flippen baie kere geval, maar dis deel van die sport. Gelukkig het ek nog nooit bene gebreek nie. Ek trek mos al my gear aan,” is sy enigste kommentaar.
Waar hy voorheen aan skoolsport soos rugby en tennis deelgeneem het, neem MotoCross nou al sy tyd in beslag. Hy oefen omtrent elke dag.
“My gunsteling track is by Jackie’s Pub & Restaurant in Sasolburg. Ek het daar opgegroei,” beduie hy. “My motorfiets se naam is Gas Giver, want hy gee my gas. My nommer is 413. Ek hou van vier en 13 is my lucky nommer.”
Rocco sien uit na die volgende rondte van die kampioenskap wat 22 Februarie beslis word.
“Ongelukkig is al die rondtes in Johannesburg, anders kon tannie kom kyk het,” sug hy.
Die Mayfair Gearbox Inland MotoCross Kampioenskap duur tot in November. Punte word met elke rondte versamel en die eerste drie plekke word dan na die laaste rondte bepaal.
