Onse Vian steeds ‘n Valie in murg en been
Hy geniet die nuwe uitdagings van student wees en leef voluit
MEYERTON – Doen waarvoor jy lief is en jy sal nie een dag in jou lewe voel asof jy werk nie.
Dit is die gesonde uitkyk wat die 19-jarige Vian Singleton op die lewe het. Vian wat bekendheid vir sy rol as Thomas in die sepie 7de Laan verwerf het, is ‘n fontein van vreugde en vrede.
Die gebore en getoë Vaaldriehoeker bly tans in die Jakarandstad en is ‘n tweedejaarsstudent aan die Universiteit van Pretoria.
Hy studeer BCom Beleggingsbestuur en geniet elke oomblik daarvan. “Dit was altyd my plan om te gaan studeer. Die vermaaklikheidsindustrie se werksekuriteit is van so aard dat jy ‘n graad agter jou naam moet hê,” gee hy te kenne.
Hy het as 12-jarige leerling aan die Laerskool Midvaal in Meyerton die rol as Thomas op 7de laan losgeslaan, waarna hy sy hoërskool loopbaan as ‘n koshuisbrak aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg voltooi het.
“Dit was die beste besluit. Die skool se akademie, sport en kultuur is van die beste in die land. Ek was ook baie naby aan die studio waar 7de laan opgeneem is. Koshuislewe het vir my baie beteken.
Ek het dit agtergekom toe ek by Tukkies kom studeer het en op my eie moes bly. Ek het baie vinniger my voete gevind as my vriende,” vertel hy glimlaggend.
Hy vertolk tans die rol van Jacques Bronkhorst in die reeks Reënboogrant wat op Showmax uitgesaai word. “Dis lekker om vir eens nie die jongste te wees nie. Ek geniet dit om met akteurs my ouderdom te werk.
Daar’s nie ‘n protagonis en antagonis nie. Die reeks kry dit reg om die karakters menslik te maak. 7de Laan het op ‘n goeie tyd in my lewe geëindig. Dit was my matriekjaar en ek kon fokus op skoolwerk,” vertel hy.
“Dit was hartseer veral vir die mense vir wie dit hulle permanente werk was. Ek mis die mense maar sien darem nog van hulle. Ek was 12 toe ek met 7de laan begin het.
Dit was die grondslag vir my. Karin Retief, ons dialoog-afrigter, het my baie gehelp en touwys gemaak oor hoe dinge agter die skerms werk.”
“Francios Lensley wat Marco gespeel het, is ‘n sout-van-dieaarde mens. Ek het baie lekker saam met hom gewerk. Hy het later by die regie betrokke geraak en vir my gesê mens moet die tannie in die kombuis net so goed soos die regisseur behandel. Hy het vir my gesê hy sal my gat skop as ek grootkop kry,” skerts hy.
Vian se ouers bly steeds in Meyerton en hy kuier gereeld by hulle. Wanneer hy homself in die Vaaldriehoek bevind beoefen hy ook by sy ou klub gemengde gevegkuns of MMA soos dit beter bekendstaan. Hoewel 2024 met beserings besaai was, lê daar groot dinge vir hom voor.
Hy is tans deel van die Gauteng MMA-oefengroep en hy beoog om einde vanjaar vir die Wêreldjeug MMA-toernooi te kwalifiseer. Hoewel hy altyd bedrywig is, is sy motto eenvoudig doen waarvan jy hou en jy sal alles gedoen kry.
“Ek spot altyd en sê ek slaap oor naweke, maar dis nie so erg nie. Ek love ‘n middagslapie,” lag hy. Hoewel hy nie die aap uit die mou mag laat nie is hy tans besig met ‘n twee-persoon teater produksie. Al wat mens kan sê is hou die spasie dop.
