Local newsNewsNews

Rubriek: Pasop vir die trolle in die drinkwater

Sosiale media sal jou kou en uitspoeg as jy nie versigtig is nie

Die vervaardigers van Survivor beskryf die treffer realiteitsreeks as die grootste sosiale eksperiment ooit.

Maar hulle het nie Suid-Afrika en die wêreld se geopolitiek in ag geneem nie.

Facebook het vir selfpublisering gedoen wat die Canon rebel 350D vir digitale fotografie gedoen het.

Aanvanklik was dit pret. Want onkunde is salig. Maar pasop vir die monster. Ons almal weet wat met die geliefde Dr. Frankenstein gebeur het.

Verlede week het ek per toeval my eie sosiale eksperiment van stapel gestuur. Ek berou dit nou.

Sosiale media is ‘n vreesaanjaende monster wat jou kan insluk en uitspoeg.

Almal het deesdae ‘n seepboksie waarop hulle staan en almal het ‘n opinie. Almal is ook deesdae “fotograwe.”

Dan kry jy ook jou trolle… Ek spel dit met opset anders omdat ons ‘n gesinskoerant is.

Daardie gesiglose individue wat onder die brug sit en wag om nare goed kwyt te raak.

Hoewel padwoede my gunsteling is, moet ek sê dat ek nogal hierdie keyboard karate geniet!

Die hele pretrit het afgeskop toe ek ‘n item op Facebook verkoop het en ‘n ene Momo Morne sy onkundige opinie op die betrokke Facebook-groep uitgeblaker het.

Nou kyk, ek vermoed ek is gegiet om ‘n kuber-sleutelbord-karate-kampioen te wees.

Sarkasme kom vir een of ander rede baie natuurlik vir my. Ek hou nogal van konflik.

As ek nie ‘n joernalis was nie, sou ek seker ewe tuis in die hof gewees het. Hopelik as ‘n prokureur met ‘n toga en nie in die beskuldigingsbank nie. Maar met my is enige iets moontlik.

Na ‘n lekker heen-en-weer met Momo die sleutelbordkryger, het ek agtergekom hoe broos en boos die mense is.

Veral na die hele Trump-AfriForum-saga. Al die trolle sit en wag dat jy iets moet sê wat hulle brose egos seermaak.

Miskien moet daar ‘n trigger warning emoji op Facebook aangebring word. As nuushond moet mens orals ingeskakel wees.

So bevind ek myself in die spervuur van die kamerade met die rooi pette. Net omdat ek my beskeie opinie gegee het dat die Commander and Chief en sy party hulle eerder by plaaslike as internasionale politiek moet bepaal. Wat daarna gevolg het is nie geskik vir publikasie nie.

My volgende stap is toe om meer data van ‘n ander demografie in te win. Mens kort mos ‘n kontrolegroep om ‘n stelling te toets en geloofwaardigheid aan jou “eksperiment” te verleen.

So maak ek ‘n grappie op ‘n Netwerk24 -berig oor Suid-Afrikaners wat moet besin voordat hulle na die VSA vlug. Al wat ek wou weet is wat Charlize Theron oor die hele storie sê.

Selfde uitkoms. Uit spring ‘n trol! ‘n Ene Sakkie. Wat my as ‘n stuk gemors uitkryt.

Ek het net soos sy naam nie rondgehang om uit te vind wat hy werklik daarmee bedoel het nie.

My plasing was waarskynlik bitter onverantwoordelik aangesien ‘n soortgelyke grappie destyds ‘n man se lewe in Meyerton gekos het.

Ek het altyd gedink om ‘n social influencer en sosiale media celebrity te wees lyk lekker, maar een ding wat ek uitgevind het is dat sosiale media harde werk is.

My advies is: Spring ‘n pakkie springmielies en sit terug en wees ‘n sosiale media voyeur.

‘n Passassier wat die wipwaentjierit geniet en kan afklim wanneer jy wil. Sonder enige nare nagevolge. Staan sterk en pasop vir trolle in die drinkwater.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button