Van die kleine Villiers na die grote Vanderbijl
NG Gemeente Kollegepark se nuwe predikantspaar sien uit daarna om nie net hul gemeentelede nie, maar ook die groter gemeenskap van Vanderbijlpark te leer ken.
VANDERBIJLPARK – Ds. Hannes en sy vrou, Danél van Deventer, sê Vanderbijlpark voel amper vir hulle soos ‘n stad na hul drie jaar verblyf in Villiers in die Vrystaat.
Die NG Villiers was Hannes se eerste amptelike gemeente en die egpaar het goeie jare daar beleef.
“Die platteland het sy eie probleme, waarvan armoede ‘n groot een is. Gelukkig werk al die kerke in Villiers saam om die behoeftiges in die omgewing te help,” vertel Hannes wat aktief by die projek betrokke was.
Danél is ‘n grondslagfase onderwyseres en het by die Villiers gekombineerde skool klas gegee.
Hulle was duidelik gelukkig daar, maar het gevoel dis tyd om aan te beweeg. Hul eersteling, ‘n dogtertjie, word volgende maand gebore, en die egpaar het besef hulle sien nie kans dat hul dogter eendag sal moet koshuis toe nie.
“Ons is geseënd om by NG Kollegepark te kan inval. Sedert ons aankoms begin Februarie het die gemeente uit hul pad gegaan om ons te laat tuis voel,” sê Hannes.
Hulle is veral opgewonde omdat die gemeente hulself as ‘n sendingkerk beskou en regtig omgee vir die gemeenskap.
Terwyl Hannes reeds die volle predikantspligte op sy skouers het, sal Danél eers later kyk vir ‘n onderwyspos in die dorp.
“Ek sien baie uit na baba se koms en om aan die begin by haar te wees, maar ek mis dit om skool te hou. Grondslagfase-onderwys is deel van my.”
