Stil, sterk en rats op sy voete
In die bokskryt is hy rateltaai en maak opponente gereeld met die grond kennis, maar buite die kryt het die kampioen 'n sagte hart veral vir sy gesin.
MEYERTON – Dis moeilik om die stil en rustige Donjuan van Heerden met koffiebeker in die hand te vereenselwig met die bokser wat menige opponent al in minder as 30 sekondes op die grond gehad het.
Sy oë blink trots as hy oor sy kinders praat. Sy seuntjie het begin met skopbokslesse. “Ek sal hom nooit dwing om te boks nie. Hy kan deelneem waaraan hy wil. Ronaldo het self besluit hy wil nou skopboks doen,” glimlag Donjuan.
Sy dogtertjie is nou nege maande. ‘n Voorstel dat sy dalk eendag in haar pa en ooms se boksskoene sal wil volg, word dadelik met ‘n frons beantwoord. “Daar is nie ‘n manier nie.”

Boks was nog altyd in Donjuan se bloed. Sy pa, Danie, het hom op drie al in die kryt gehad. Hy onthou hoe hy die sport gehaat het omdat hy altyd teen groter kinders moes boks.
“Ek het altyd ‘n blou oog of ‘n bloedneus gehad,” beduie hy. Mettertyd het hy ‘n liefde vir die sport ontwikkel en kort voor lank was hy die een wat ouer en swaarder opponente met bloedneuse huis toe gestuur het.
Vandag is hy ‘n ervare bokser en ‘n gedugte teenstander. Ongelukkig is daar nie altyd genoegsame opponente nie. Daar is baie politiek by boks betrokke en toernooie het skaars geword.

“Hulle maak ons drome dood,” sug hy. Alhoewel Donjuan nog vir jare sou wou boks, moet hy ook aan sy verloofde en kinders dink.
“Ek oorweeg dit om soos my broer, Danie by klapgevegte betrokke te raak. As die jongste van die Van Heerden-broers het ek in my lewe al baie klappe gekry en uitgedeel,” lag hy.
Donjuan was ses keer as SA Amateur Bokskampioen gekroon en het in 65 gevegte net twee verloor.
As professionele bokser is hy die Gauteng Middelgewig kampioen en het hy in 12 gevegte nege gewen en drie verloor. Van sy nege oorwinnings was ses uitklophoue.
Tans hoop hy om weer vir ‘n slag in die kryt te kan klim. “Ek is ewig dankbaar vir my borge, GST SA – Great Shift Trading SA, Mk8 Diamond Security, Anarchy Monster Bullies, Ynot Connect, Guniwheel SA, Midvaal Tooling Pty en The4x4store.co.za, wat my deur dit alles bystaan en wens regtig net daar was meer gevegte.”
Hy droom daarvan om eendag sy eie boksgimnasium oop te maak, waar daar nie net bokslesse gegee sal word nie, maar waar ‘n algemene belangstelling in boksfiksheid onder oud en jonk aangevuur sal word.
Dan natuurlik sal hy ook as wêreldkampioen gekroon wil word… hy moet net die kans kry.
