Ek sê maar net… Kaskenades voor en agter die kamera
RUBRIEK - Een van my lekkerste missies elke week is om met ses jongelinge van graad 1 - 3 te gaan gesels en hul so ver te kry om vir die kamera te glimlag.
RUBRIEK – Elke week is ek op ‘n missie na een van die Afrikaanse laerskole. Daar ontmoet ek ses jongelinge, tussen graad 1 en graad 3, en dan word daar gesels.
Hulle moet met mekaar gesels terwyl ek individueel met elkeen ‘n gesprek in die ander hoek van die kamer voer.
Eienaardig hoe kinders skielik niks vir mekaar te sê het nie, maar ‘n hond uit ‘n bos praat as hul in die klas is. Ook maar nuuskierig om te hoor wat seg die vreemde joernalis-tannie met die kamera vir hul maat.
Gewoonlik verloop die hele aksie flink en vinnig, maar net soms het die juffrouens vir my al die rakkers op een slag gestuur. So het ek al ‘n jonge graad 3-juffie gehad wat haar tyd onder ‘n tafel verwyl het terwyl sy moes wag.
Twee graad 2 seuns wat in ‘n stoei geveg betrokke geraak het en graad eentjies wat mekaar wou jaag in die personeelkamer.
Ek het vinnig geleer dit help as ek die skoolhoof se naam noem. Nie as ‘n dreigement nie, ek wonder net hardop wat meneer nou sal sê as hy inkom en in hoeveel moeilikheid ek dan sal wees?
Die jongspan bedaar dan, blykbaar hou hul nie daarvan dat ek in die moeilikheid kan beland nie.
Die grootste pret kom gewoonlik as ek moet foto’s neem. Dis ‘n hele ritueel om eers te besluit waar hul wil staan of sit.
Ai toggie, om ‘n natuurlike glimlag uit my jongelinge te kry is ‘n missie op sy eie. Hulle sal hoe lank met my gesels en dis net tande en kuiltjies, maar die oomblik as ek die kamera oplig, trek die gesiggies styf en kom daar ‘n grynslag te voorskyn.
Deel van die tradisie is dat hul eers moet kyk na die foto’s op die kamera en besluit watter een gebruik kan word.
Die meeste is dadelik tevrede, maar so dan en wan is daar enetjie wat die foto betrag en dan kop skud. “Kan ons weer neem tannie?”
Tannie sê altyd ja, want ek weet dis sommer net vir speel. Daar word oë gerek en gesigte getrek, deur die jongeling en die fotograaf, totdat ons albei lag.
Lekker om dan te sien hoe die kleintjies klas toe gaan. Skouers bietjie meer reguit, ogies ekstra blink en oorgehaal om die storie vir almal te gaan vertel.
