Local newsNewsNews

Gevaarligte flikker oor veiligheid van boorgatwater

Watertoetse wat AfriForum se Parys-tak onlangs op water uit vier boorgate in verskillende dele van Parys laat doen het, toon dat drie van dié boorgate se water ongeskik is vir menslike gebruik.

Een van die boorgate se toets het selfs op die teenwoordigheid van Escherichia coli (E. coli) gewys.

Die toetse is deur ’n SANAS-geakkrediteerde laboratorium gedoen en die resultate is veral kommerwekkend aangesien daar dikwels ’n wanpersepsie bestaan dat boorgatwater altyd skoon en veilig is vir menslike gebruik.

AfriForum moedig inwoners van Parys wat van boorgatwater gebruik maak, aan om water uit hul boorgate te laat toets, veral as dit vir drinkwater gebruik word.

“Hoe hartseer is dit nie dat Parys se inwoners tans van geen bron van skoon water het nie? Die munisipaliteit het hulle in die steek gelaat en nou blyk dit dat selfs die grondwater besoedel is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum-tak in Parys, kan die groot hoeveelheid rioollekkasies in Parys moontlik die rede vir die besmetting van ondergrondse water op die dorp wees.

“Omdat Parys op ’n granietbank lê en die water nie diep kan wegsyfer nie, bly dit bo die granietbank vanwaar die meeste boorgate se water gepomp word,” verduidelik Burger.

Pretorius benadruk dat die doeltreffende bestuur van Parys se watersuiweringsaanleg ’n noodsaaklikheid is en dat die aanstelling van bevoegde individue en bestuur minstens die krisis rakende veilige kraanwater in dié dorp sal beredder.

Intussen wag AfriForum steeds op uitspraak in ’n hofaansoek oor dié krisis.

Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is.

Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas wanneer ’n munisipaliteit nie sy pligte nakom nie.

AfriForum versoek onder meer oorsig van die waterwerke sodat die bevoegdheid van werkers op die aanleg gemonitor kan word.

Toets water só
Toetse moet verkieslik by ’n geakkrediteerde laboratorium onderneem word. AfriForum se watertoetse word by die Envirocare-laboratorium in Potchefstroom gedoen. Die koste beloop ongeveer R500.

Tap 500 ml water in ’n gesteriliseerde bottel.

Besorg die watermonster binne 48 uur by die laboratorium.

Indien water nie dadelik na die laboratorium geneem kan word nie, moet dit verkieslik verkoel of op ys gehou word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button