VANDERBIJLPARK – Sy het die afgelope maande diep in Vaalweekblad-lesers se harte gekruip. Die dapper Mieke Prinsloo (5) met die vonkeloë en vrolike glimlag.
Die eerste keer wat haar storie in die koerant verskyn het, was haar bloedrooi wange die enigste teken van siek wees.
Sy het vir jare swaargetrek met onder andere blaasinfeksies. Uiteindelik is bevind dat ‘n onderontwikkelde nier die groot moeilikheid veroorsaak het.
Daar is baie toetse op die klein lyfie uitgevoer, maar sy het elkeen met ‘n glimlag deurstaan. Haar ouers het intussen geld ingesamel om te help met kostes wat hul mediesefonds nie bygebring het nie.
Vroeg in Januarie het ‘n spesialis gesê die nier moet uit en die operasie is vir 7 Februarie geskeduleer. Alles het goed afgeloop en Mieke was sommer vinnig by die huis.
Op 21 Februarie het sy weer die spesialis besoek. Die dokter is tevrede met haar vordering. Mieke hoef nie meer chroniese medikasie te gebruik nie en moet eers weer in Augustus die spesialis sien.
Die beste nuus vir Mieke was egter dat sy terug skool toe kon gaan. Sy is die jaar in Graad R aan die Laerskool Eligwa en was super opgewonde om weer haar maats by die skool te sien.
Haar ma, Ilse, het ook laat weet dat hul medies 98% van al die rekeninge gedek het. “Ons moes ‘n paar rand inbetaal vir die laboratorium en narkotiseur, maar gelukkig lyk die rekeninge goed.”
