Local newsNewsNews

Rubriek: Koning van die Gifappeltjies behou sy troon

Kabouterland krap steeds kop

As kind was ek versot daarop om Saterdagoggende op my ma se werkskamer se mat te gaan lê en plate van Bollie en familie, Duppels en Otterjasie, Wolf en Jakkals en Liewe Heksie te luister.

Die Gifappeltjies van Gifappeltjieland en die Pers Heks was die antagoniste wat die inwoners van Blommeland geteister het. Borrie en Kerrie was die karnallies wat Liewe Heksie, Griet, Koning Rosekrans, Blommie en kie gryshare gegee het.

Ek het myself die ander dag boeglam geskrik toe ek langs Barrage-weg jouwaarlik ‘n klomp Gifappeltjies in oranje oorpakkies gewaar het.

Party het gelê, ander het gestaan en kyk hoe sommiges maak asof hulle grassny.

Die res het hul Facebook-status opdateer en die nuutste tegnieke oor hoeom-besig-te-lyk op ChatGPT opgesoek. Mens moet immers op hoogte bly van vernuwings.

Wat deur een grassnyer-trekker verrig kan word, word nou deur 30 tot 40 individue vermag.

‘n Oormag. Maar moenie te gou oordeel nie. Hierdie is deel van ‘n groter meesterplan om werk te skep.

Mens kan mos nie toelaat dat tegnologiese voortuitgang onse mense se hardverdiende werk steel nie. Die inwoners van Kabouterland het boonop vroeër vandeesmaand gepoog om die koning van Gifappeltjieland te ontroon.

Daar was egter geen gelukkige einde aan hierdie kinderstorie nie. Met 49 stemme vir en 40 stemme teen het die Gifappeltjiekoning sy troon en wurggreep behou.

Selfs Mattewis, Liewe Heksie se kat, het rot geruik, maar sonder konkrete bewyse kan daar slegs gespekuleer word wat die uitkoms van die stemproses beïnvloed het. Miskien is daar blare van die Silwer Roos uitgedeel.

Hoewel Liewe Heksie nie groot woorde verstaan nie, weet sy ook dat dinge nie pluis is nie. Self Blommie, die slim Kabouter, krap kop en Kwaaitjie staan rooigesig en raas.

Hoewel sommige Blommelanders boedel oorgegee het is daar steeds diegene wat inspring om gras te sny, vullis te verwyder en slaggate te herstel.

Daar’s geen towerstaffies wat hier geswaai gaan word om Blommeland in sy voormalige glorie te herstel nie. Saamstaan en harde werk is ons voorland. En fluit-fluit my storie is uit!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button