Local newsNews

Afrikaanse sanger deur beroerte gekortwiek

Sanger Leonardo het sy aanhangers laat skrik toe hy 'n beroerte gehad het.

VANDERBIJLPARK – Hy is bekend vir sy Afrikaanse en Country musiek en het al menige album vrygestel. Leonardo van Zyl (41) se 2025 was goed beplan met albumvrystellings en optredes, maar die lewe gooi soms vreemde draaie.

Begin Februarie het Leonardo uit die bloute ‘n ligte beroerte gehad. Dit het hom verlam gelaat aan sy linkerkant.

“Ek het geen simptome gehad nie en het die Saterdagoggend nog gewerk en die aand het ek by my swaer gaan braai. By die huis het ek vir my vrou, Sharon, gesê ek wil gaan bad. Ek het die prop in die bad gesit en die krane oopgedraai, toe val ek agteroor,” vertel Leonardo.

Verder kan hy nie onthou nie. Hy is na ‘n hospitaal gehaas waar daar bevind is dat hy ‘n Transient Ischemic Attack, of dan beroerte, gehad het.

Die eerste paar dae was sy linkerbeen lam, kon hy nie sy linkerarm gebruik nie en van sing was daar nie sprake nie. “

Dit het my heeltemal onkant gevang. Ek weet daar is cholesterol en bloeddrukprobleme in ons familie, maar ek het nog nooit ‘n probleem met een van die twee gehad nie.”

Leonardo het besluit om nie te bly lê nie en het baie hard begin oefen sodat hy weer die gebruik van sy stembande, linkerbeen en arm kon kry.

“Ek het vyf dae aanmekaar die oefeninge gedoen wat ek by ‘n fisioterapeut gekry het,” vertel hy. Dit het gewerk, want hy kan weer sy linkerbeen gebruik en die hoër note bereik. Ongelukkig sukkel hy nog met sy linkerarm en oefen hy hard om weer beheer oor sy linkerhand te kan kry.

Intussen het hy besluit om vir eers nie enige vertonings te hou nie. Hy kan gelukkig weer sy posisie as bestuurder by ‘n groot winkel in Heilbron volstaan.

Die goeie nuus is dat sy volgende Country album binne die volgende week of wat vrygestel sal word. Hy is ook besig met die laaste opnames van sy opkomende Afrikaanse album. Intussen gaan sien hy gereeld die dokter en word sy cholesterol en bloeddrukvlakke gemonitor.

“Beide is steeds nie onder beheer nie, maar ek is op chroniese medikasie wat weer volgende week aangepas sal word,” sê hy.

Die gesin het nie ‘n mediesefonds nie en Leonardo betaal tans alles uit sy sak uit. Veral die medikasie is baie duur en beloop oor die R2 600 per maand. Dit sluit nie die doktersbesoeke en toetse in nie.

Enige finansiële donasies sal waardeer word. Bank: Capitec. Rekeningnaam: Mev. Sharon Smith. Rekeningnommer: 1561139430.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button