Onnie se selfdood skok gemeenskap
"Hy was meer as net ʼn goeie mens. Stiaan was ʼn ware vriend iemand op wie jy altyd kon staatmaak en wat geluister het sonder oordeel."
VEREENIGING – Daar bestaan steeds baie hoekoms en waaroms rondom die selfdood van die 27-jarige Stiaan Pistorius, ‘n geliefde onderwyser aan die HS Overvaal in Vereeniging.
Die skool, sy familie, vriende en geliefdes gaan eerskomende Donderdagmiddag vanuit die NG Kerk in Falcon Ridge finaal van hom afskeid neem.

Stiaan het die afgelope vyf jaar by die HS Overvaal diep in die skool, die kinders en die gemeenskap se harte ingekruip.
“Hy het in 2020 as jong onderwyser hier begin. Hy was altyd baie positief en het ‘n groot impak op die kinders gehad. Hy was baie lief vir sport. Veral rugby. Hy was ʼn skitterende skeidsregter.

Hy het ‘n wonderlike persoonlikheid gehad en het die kinders altyd geterg. Hy was ook baie verantwoordelik en het baie goeie karaktereienskappe gehad. Ons weet glad nie wat aanleiding tot sy selfdood gegee het nie,” het mnr. Schalk Rabie, hoof van die HS Overvaal by navraag gesê.
Die skool het Saterdag 1 Maart ʼn sportdag teen Sasolburg HS gehad en volgens mnr. Rabie het hulle onraad vermoed toe hy nie opgedaag het nie. Sy tannie Hanlie du Toit wat adjunkhoof by die skool is, het na sy woning gery en hom daar aangetref.
“Baie mense wou die sportdag stop, maar Hanlie-hulle het gesê dit moes voortgaan want dit is wat Stiaan sou wou hê,” het mnr. Rabie te kenne gegee.
Die skool het egter hierdie naweek se wedstryde teen HS Standerton gekanselleer. “Dit is ʼn groot skok en daar was ʼn morbiede atmosfeer Maandag by die skool. Daar is beraders heel week by die skool om die leerlinge en onderwysers by te staan.”
“Stiaan was iemand wat altyd gereed was om ʼn helpende hand uit te steek en ‘n glimlag te deel.
Stiaan se hande het nooit vir enige iets verkeerd gestaan nie. Almal het onmiddellik van hom gehou – oud of jonk. Met sy vriendelikheid het hy altyd lig gebring waar hy ookal gegaan het.
Sy grappies, soms skerp maar altyd goedhartig, het gesorg dat daar altyd glimlagte was wanneer hy naby was.
Meer as net ʼn goeie mens, was Stiaan ʼn ware vriend – iemand op wie jy altyd kon staatmaak en wat geluister het sonder oordeel. Vir sy familie, vriende en almal wat hom geken het, laat hy ‘n leemte, maar ook ʼn nalatenskap van omgee, lojaliteit en opregte vriendskap,” het sy niggie Hanri Steyl gesê.
