SHS rou na geliefde kantoortannie se skielike dood
Sy word deur haar seuns Francois en Jonathan du Toit, en haar twee kleinkinders, Gabriella en Nathan, oorleef.

SASOLBURG – Die vlae hang halfmas by die Sasolburg Hoërskool ter nagedagtenis aan mev. Elize du Toit (66) wat die naweek in die Kaap skielik oorlede is. Sy het by familie gaan kuier.
Daar is op 24 Februarie verdere eer betoon toe die skool se kanon, Griet, met ‘n enkele skoot ter ere aan haar afgevuur is. Haar foto word ook tans in die voorportaal van die skool ten toon gestel.
Sy het die afgelope 14 jaar diep spore by die skool en in mense se harte getrap.
Die skool het die volgende roerende inskrywing op sy Facebookblad gemaak: Met groot hartseer deel ons die nuus van die afsterwe van ons geliefde personeellid, Elize du Toit. Elize was ‘n integrale deel van ons administratiewe span by Hoërskool Sasolburg en was geliefd onder personeel en leerders.
Haar deernis, toewyding en besondere sin vir humor het haar ‘n kosbare deel van ons skoolgemeenskap gemaak. Baie het haar geken as “Tannie Soek-Soek,” ‘n naam wat sy met trots gedra het in haar rol as verantwoordelike vir detensie.
Sy het altyd regverdig, met ‘n glimlag en ‘n sagte hart opgetree. Haar teenwoordigheid sal gemis word en haar afsterwe sal ‘n onmeetbare leemte in ons gange en kantore laat.
Ons gedagtes en innige simpatie gaan uit na haar familie, vriende en almal wat haar liefgehad het.
Mag julle troos vind in die herinneringe aan haar ongelooflike lewe en die positiewe invloed wat sy op soveel mense gehad het. Rus sag, Elize du Toit. Jy sal altyd deel wees van die Hoërskool Sasolburg-familie.
Volgens haar kollega Rinske Wester was Elize ‘n lig vir almal. “Elize het baie min gehad, maar nooit ooit gekla nie. Sy sou die laaste wat sy het nog vir iemand gee.
Sy het almal wat nuut by die skool begin het onder haar vlerk geneem, altyd gehelp en was die grootste bok vir sports. Sy het in al die revue optredes van die skool deelgeneem.
Sy het altyd vir gewone klere dae opgedress. Sy het as Juffrou Soek-Soek bekendgestaan en sy het ‘n paar keer soos Sherlock Holmes aangetrek tot groot genot van almal. Elize was ongelooflik lief vir die Magoebaskloofkamp.
Sy het dit deur al die jare net een keer gemis toe haar oudste seun getrou het. Sy het selfs die kamp met ‘n gebreekte been een jaar bygewoon,” vertel Rinske. Sy word deur haar seuns Francois en Jonathan du Toit, en haar twee kleinkinders, Gabriella en Nathan, oorleef.
