Local newsNews

Ek sê maar net… Kyk tannie, ek is ‘n froggie

RUBRIEK - Dié twee graad eentjies is sekerlik 'n handvol in die klas, maar terseltertyd kan mens nie anders as om saam met hulle te wil lag en speel nie.

RUBRIEK – Die twee graadeentjies stap laaste by die personeelkamer in. Opgewonde en lewenslustig.

Ek verduidelik hoe ek met elkeen apart gaan praat. Hulle kan onder mekaar gesels, net nie te hard nie.

“Ag, waaroor moet ek dan nou gesels?” sê die een graadeentjie. Hy sit omgedraai op sy stoel. Kaalvoet.

“Vertel jou maatjie wat jy die naweek gedoen het?” Ek gesels eers met die graad 3’s.

Een van die kantoordames stap deur die personeelkamer met ‘n seuntjie agter haar. “Haai is hy nog ‘n graad baba?” koor die twee graadeens asof hulle al jare in die skool is.

Ru en Mioné die twee graad eentjies is ‘n intelligente handvol ondeunde. Foto: Gerda Bruinette

Uiteindelik is net die graadeens oor. Die skoonmaker raas bietjie, want hulle sit nie stil nie. Ek hou die gesprek kort met Mioné en roep die seuntjie nader.

Hy spring van die stoel af en kruip-seil oor die vloer. “Kyk tannie, ek is ‘n froggie.” Ek sien al die hoof se gesig sou hy skielik instap, maar kan nie help om te lag en ‘n foto te neem nie.

“Wat is jou naam?”

“Die kort ene of die lang ene?” vra hy ernstig. “Party sê vir my Ru en ander sê Ruhandré.

“Hou jy van skool?” Hy dink eers diep. “Ja en nee. Ek hou van assessering, maar nie van toetsies nie.”

“Is daar ‘n verskil?”

“Maar natuurlik,” hy kyk my ‘n oomblik stomgeslaan aan. Duidelik kan hy nie glo ek ken nie die verskil nie.

“Die een staan jy voor die klas en almal kyk vir jou. Die ander een skryf jy op papier.”

Die klok lui oorverdowend. “Dis pouse. Kom ons neem gou ‘n foto.”

“Ek gaan so sit” en Ru vou homself amper dubbeld op die stoel om sy groottoon in sy mond te kry.

“Nee man, sit mooi.” Hy laat sak sy been, maar draai sy kop geheel windskeef. “Nou lyk dit of jy permanent ‘n pyn in die nek het” wys ek hom die foto.

Uiteindelik sit hy semi-stil en ‘n bruikbare foto verskyn op die kameraskerm. “Is ons klaar? Dit was te vinnig,” protesteer hy.

“Dis pouse. Ek dog jy wou gaan eet” herinner ek hom. Soos blits is die twee graadeens by die deur uit.

Hulle groet eggo nog deur die personeelkamer toe klap hul kaalvoete al by die stoeptrappies af. Duidelik is die twee gelukkig in die groot skool.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button