ELM dienste en finansies nog verder die drein af
Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) se finansiële situasie het verder versleg met die goedkeuring van sy aansuiweringsbegroting wat met R400 miljoen afwaarts aangepas is.
Dit is volgens ‘n media verklaring wat Woensdag deur VF Plus Raadslid Gerda Senekal uitgereik is.
“Emfuleni het vir die 2024/25-finansiële jaar ʼn onbefondsde begroting goedgekeur en omdat daar geen verbetering in die munisipaliteit se finansies is nie, bly die begroting onbefonds,” verduidelik sy.
Dit beteken ELM sal nie sy krediteure kan betaal nie.
ELM sal onder meer ook nie amptenare of raadslede se salarisse kan betaal, rente diens of vir gekontrakteerde dienste kan betaal nie.
Emfuleni het R720 miljoen nodig om sy maandelikse uitgawes te dek.
“Die benarde situasie kan deels toegeskryf word aan die invorderingskoers van munisipale rekeninge wat in die tweede kwartaal slegs 72% was. Dit is 12% laer as die geprojekteerde invorderingskoers van 85% of hoёr in die 2024/25-begroting,” sê rdl. Senekal.
In kort beteken dit dat dienslewering nog verder agteruit sal gaan.
“Geen bykomende vullisverwyderingstrokke sal gekoop of gehuur kan word nie, krag- en waterfoute sal langer neem om te herstel omdat daar nie fondse is om brandstof vir munisipale voertuie aan te koop nie, en sypaadjies en openbare ruimtes sal nie opgeruim kan word nie,” sê rdl. Sekekal.
Die VF Plus het nie die aansuiweringsbegroting gesteun nie en is van mening dat die munisipaliteit wel suksesvol bestuur kan word indien fondse reg beheer en aangewend word.
“Die wanbestuur van die munisipaliteit die afgelope jare het Emfuleni vernietig en inwoners betaal die prys daarvoor,” sluit rdl. Sekekal af.
