‘Elke uur word daar minstens 3 mense in SA vermoor’
"Al toon die polisie se jongste misdaadstatistiek steeds ‘n afwaartse neiging wat verwelkom moet word, is die harde waarheid steeds dat Suid-Afrika verdrink in ‘n see van gewelddadige misdaad".

Dit is hoe Heloïse Denner (VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Polisie) die spyker op die kop slaan in haar mediaverklaring.
Die twee voorbeelde wat haar beskrywing staaf is moord en verkragting.
Die statistiek toon dat daar in die tydperk van Oktober tot Desember verlede jaar ‘n stewige 757 moorde (9,8%) minder was as in die ooreenstemmende tyd ‘n jaar gelede.
“Die realiteit is dat daar in dié tyd steeds 6 963 moorde gepleeg is. Dit is sowat 77,3 per dag wat beteken dat daar elke uur in Suid-Afrika meer as drie mense vermoor word,” beklemtoon Denner.
“Verkragting is af met 3,3% of 408 gevalle teenoor ‘n jaar gelede. Net so is die harde realiteit dat 11 803 vroue in dié enkele kwartaal verkrag is. Dit is 131 per dag, of bykans 5,5 elke uur”.
Sy wys ook daarop dat geslagsgegronde geweld met erns gepak mot word.
“Hierdie syfers is ‘n skokkende aanklag teen die stand en standaard van polisiëring in die algemeen, maar ook teen die Suid-Afrikaanse samelewing wat oënskynlik afgestomp raak vir misdaad.
Ander misdaad wat ‘n afname getoon het, is kontakmisdaad soos moord (-9,8%), roof (-6%) en gewapende roof (-13,1%).
So ook die gevreesde trio-misdade. Motorkaping is af met 19,5%, rooftogte by woonhuise en 1,6% en rooftogte elders met 21,3%. Transitorooftogte is af met sowat 40%.
Gewone misdaad wat vir alle Suid-Afrikaners ‘n daaglikse nagmerrie is, toon ook ‘n welkome afplatting.
Inbraak en diefstal by woonhuise is af met 12,3%, inbraak elders met 19%, diefstal van motors en motorfietse is 18,3% minder en selfs veediefstal is af met 4,5%.
“In dié tyd was daar luidens die statistiek net een boer vermoor. Vir die VF Plus is een moord nogtans een te veel,” sluit Denner af.
