Local newsNewsNews

Laat toets boorgatwater as jy twyfel!

Mens sou dalk dink dat grondwater natuurlik beskerm is, aangesien dit diep ondergronds geleë is. Maar die invloed van menslike aktiwiteite spaar nie hierdie ondergrondse reservoirs nie.

Met elektrisiteit en watervoorsiening wat nie altyd verskaf word na verwagting nie, het baie Suid-Afrikaners vooruit beplan vir sulke gevalle.

Solarkrag en boorgatwater is waarop daar meestal staatgemaak word.

Maar nou moet landsburgers wat boorgate het, boonop ‘n stappie verder gaan om seker te maak hul boorgatwater is geskik vir menslike gebruik.

“Ten spyte van sy diepte en vermeende natuurlike beskerming, is grondwater nie immuun teen besoedeling nie,” sê Charlotte Metcalf, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Bottelwatervereniging (SANBWA).

Huishoudings en sakepersele wat boorgate vir drinkwater gebruik, moet waaksaam wees; dit is noodsaaklik vir boorgatgebruikers om nie die veiligheid van hul water te aanvaar nie, veral as hulle naby menslike en/of industriële aktiwiteite is.

Gereelde toetsing en monitering van boorgatwater is noodsaaklik om te verseker dat dit veilig bly vir verbruik.

Watertoetse wat AfriForum se Parys-tak onlangs op water uit vier boorgate in verskillende dele van Parys laat doen het, toon dat drie van dié boorgate se water ongeskik is vir menslike gebruik.

Die toetse is deur ’n SANAS-geakkrediteerde laboratorium gedoen en die resultate is veral kommerwekkend aangesien daar dikwels ’n wanpersepsie bestaan dat boorgatwater altyd skoon en veilig is vir menslike gebruik.

Die groot hoeveelheid rioollekkasies in Parys is moontlik die rede vir die besmetting van ondergrondse water op die dorp.

In die Vaal was daar nog nie inwoners wat oor die watergehalte van hul boorgate gekla het nie, maar indien mense twyfel, word hul aanbeveel om hul water te laat toets.

Toetse moet verkieslik by ’n geakkrediteerde laboratorium onderneem word.

AfriForum se watertoetse word by die Envirocare-laboratorium in Potchefstroom gedoen. Die koste beloop sowat R500.

Tap 500 ml water in ’n gesteriliseerde bottel.

Besorg die watermonster binne 48 uur by die laboratorium.

Indien water nie dadelik na die laboratorium geneem kan word nie, moet dit verkieslik verkoel of op ys gehou word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button