OVS-onnies dalk sonder medies
Departement trek bydraes af maar betaal dit nie oor nie.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het met groot kommer kennis geneem van die Vrystaatse Onderwysdepartement se nalatigheid in die nakoming van sy verpligtinge aan sy lede.
Volgens ‘n skrywe van die Regeringswerknemers Mediese Skema (GEMS), gerig aan die Publieke Sektor Kollektiewe Onderhandelingskomitee (PSCBC), het die departement wel GEMS bydraes van personeel verhaal, maar nie die fondse aan GEMS oorbetaal nie. Hierdie tekortkoming is aan ‘n “kontantvloei probleem” in die provinsie toegeskryf.
GEMS het die departement ‘n sperdatum van 10 Maart 2025 gegee om die betalings reg te stel, maar dié sperdatum is nie nagekom nie. Indien die agterstallige bedrag nie teen die einde van April 2025 gemaak word nie, sal alle lede van die Vrystaatse Onderwysdepartement (VSOD) hul lidmaatskap verloor.
Die SAOU waarsku voorts dat arbeidsaksie teen die VSOD oorweeg kan word, aangesien lede afhanklik is van GEMS as hul mediese diensverskaffer. Die gebrek aan mediese dekking is veral kommerwekkend in die lig van ‘n stresvolle werksomgewing en ‘n afname in persoonlike welstand.
