Kry jou stembande gereed vir Trok Talent-kompetisie
Valies met sangtalent moet hulself solank voorberei vir 'n splinternuwe talentkompetisie.

OFM en Select Musiek het die OFM Trok Talent-kompetisie aangekondig. Dit is ’n platform wat daarop gemik is om die volgende groot sangsensasie in Sentraal-Suid-Afrika te ontdek en te ontwikkel.
Die wenner van die OFM Trok Talent-kompetisie sal ’n eksklusiewe ontwikkelingsooreenkoms met Select Musiek vir ’n enkelsnit onderteken.
Die wenner sal ook die geleentheid kry om saam met liedjieskrywers, vervaardigers en musikante van wêreldformaat te werk.
“Ons bied ’n ‘Artist Development’-ooreenkoms aan – die wenner kry die kans om met ons span te werk en ’n professionele liedjie op te neem en uit te reik. Dit is dieselfde pad wat kunstenaars soos Kurt Darren, Brendan Peyper en Wentzel gevolg het,” sê Ernst Kleinhans, algemene bestuurder van Select Musiek, wat in 1994 self die wenner van ’n OFM-talentkompetisie was.
Gedurende Maart sal OFM die pad vat met sy splinternuwe Showride-buite-uitsendingeenheid, om nuwe sangtalent te vind.
So gaan dit werk:
• Elke Woensdag en Donderdag besoek OFM verskillende dorpe op soek na rou sangtalent (die dorpe sal op die OFM-webtuiste aangekondig word).
• Deelnemers tree op die Showride-verhoog op om hul sangvermoë te wys.
• Diegene wat die beoordelaars beïndruk, kry ’n kans om die groot prys te wen.
Om deel te neem, moet deelnemers:
• 18 jaar of ouer wees teen Maart 2025
• ’n Suid-Afrikaanse burger of permanente inwoner wees met ’n geldige ID
• ’n Sterk sangstem en boeiende verhoogteenwoordigheid hê
• Gemaklik wees om in die openbaar op te tree
• In Afrikaans en/of Engels kan sing.
Deelnemers stem in dat:
• Die beoordelaars se besluite finaal is.
• OFM behou die reg voor om deelnemers te diskwalifiseer wat nie aan die kompetisiereëls voldoen nie.
• Die wenner moet ’n eksklusiewe opname-ooreenkoms met Select Musiek onderteken.
• Select Musiek en OFM behou die regte tot die wenner se kompetisie-verwante optredes en promosiemateriaal.
Vir meer inligting, kontak marketing@ofm.co.za.