Ek sê maar net… Vaalweekblad van toeka tot nou
RUBRIEK - Wanneer 'n joernalis in die argiewe losgelaat word, word allerande interessante foto's en brokkies nuus ontdek.
RUBRIEK – Grawe ek in die koerant se argiewe. Daar is dekades se bundels met ou koerante. Die meeste al vergeel.
Ek blaai versigtig. Verkyk my aan ou foto’s, advertensies en berigte. Die koerant van 1969 is vandag volksvreemd. Horde berigte ingepas op ‘n bladsy. Waar daar ‘n gaatjie kon wees is Flentertjie Nuus ingepas.
Dis regtig hoe dit genoem is. Een sinnetjie goete soos, Mnr. en Mev. du Toit is terug na hul weeklange vakansie. Sê nie wie is die mense en hoekom die hele Vaaldriehoek moet weet hul is terug nie.
Maar, dalk was daar minder mense daardie jare in die dorp en het almal mekaar geken. Ek weet nie. Meeste berigte het geen foto’s nie, totdat jy omblaai en skielik ‘n bladsy kry met net foto’s.
“Hier is die plant waarvan Vaalweekblad op ‘n vorige keer berig het.” Geen verduideliking verder nie. Die fotoblad het enige iets opgehad van sport tot by troufoto’s.

Dink ons huidige uitlegspan kry ‘n oorval as hulle dit so moes doen. Ek sleep later 1978 se bundel nader. Die jaar toe ek in graad 1 was.
Kom op ‘n foto af van Laerskool Frikkie Meyer se voormalige hoof, mnr. Peet Steyn. Nooit geweet hy is in Brakpan gebore en het ook in 1978 by Frikkie Meyer begin nie. Hy was maar 43, ek het in graad 1 gedink die arme man is al stokoud.
Ek blaai verder. In die 70’s was daar al heelwat meer foto’s in die koerant. ‘n Blad met atletiekfoto’s vang my oog. Hoërskole atletiek bo en heel onder is ‘n laerskoolkind afgeneem.
Blonde outjie op volspoed. Ek erken die gesig alvorens ek die onderskrif lees. Michael Berendt. Nou se dae werk hy in Doha, maar op sy dag was hy een van Frikkie Meyer en later Hoërskool Vanderbijlpark se naelloop kampioene.
Ons is ook al vriende sedert graad 1. Hy lag toe ek die foto aanstuur. Ek gaan bêre die bundel. Kyk verlangend na al die ander in die kas.
Daar is nie tyd om verder deur ou koerante te blaai nie, die jongste uitgawe vra om geskryf te word.
Eendag gaan ek nog ‘n plan maak en verder in die argiewe kuier. Net so bietjie verdwaal in die ryke geskiedenis van ons streek en sy mense vasgevang in die blaaie van onse Vaalweekblad.
