Local newsNewsNews

Vaal se goue stem nou stil

Marius Dreyer het soveel mense aangeraak

VANDERBIJLPARK – Die enigste ding groter as sy glimlag was sy omgeehart. ‘n Donker wolk hang oor die Vaaldriehoek nadat Marius Dreyer, bekende omroeper en televisiepersoonlikheid van die Vaaldriehoek, tegnies breindood verklaar is.

Sy geliefde vrou van 17 jaar, Amanda, het Woensdagoggend, 19 Maart die skokkende nuus gedeel dat hy Dinsdagoggend vroeg ‘n beroerte gehad het en met bloeding op die brein in die hospitaal opgeneem is.

Hy is later breindood verklaar en die masjiene wat sy organe aan die lewe gehou het, is afgeskakel. Marius was ‘n orgaanskenker.

Hy was meer as 25 jaar in die uitsaaiwese. Tien jaar hiervan was by 90.6FM waar sy stem bekend geword het met sy oggendprogram Morning Mix@6 en die Afrikaanse Top 30-program op Sondae.

Hoewel Marius verskeie gesondheidsterugslae beleef het, het hy altyd geglimlag en nooit sy vlymskerp sin vir humor verloor nie. In 2010 het hy gesondheidsprobleme opgedoen en by die dood omgedraai.

Hy het egter altyd tong-in-die-kies gesê dat sy kinders spot dat hy ʼn “coffin dodger” is. Hy het onlangs nog opgemerk dat hy elke keer gespaar is omdat die Here nog ʼn plan en ‘n doel met hom gehad het.

Marius het jare gelede sy loopbaan as klankman by die SAUK begin en later onder die mentorskap van Sarel Marais by Radio Hoëveld begin werk. In 2018 het hy ʼn hartaanval gehad en op 19 September ‘n hartomleiding ondergaan en volkome daarvan herstel.

Hy was ook ʼn diabeet en het later met sy sig gesukkel wat daartoe bygedra het dat hy in 2021 sy laaste uitsending gedoen het. In sy 25 jaar in die uitsaaiwese het hy verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars ontmoet en diep spore in die bedryf getrap. Hy het soveel mense gehelp.

Hy kon egter nie stilsit nie en het die stasie steeds met bemarking en funksies gehelp.

Hy was ‘n uiters belese mens wat oor enigiets met gesag kon praat. Hy was ook die bestuurder van verskeie sangers soos die Bosveld Klong om net een te noem. Hy was ook ‘n aanbieder op Sedibeng TV en het stemwerk gedoen verskeie nasionale en plaaslike radio advertensies.

Hy was altyd stiptelik en uiters professioneel, een van die min mense wat ‘n snit, insetsel of advertensie in een probeerslag uit die park kon slaan. Hy was ‘n puik regisseur en ‘n kreatiewe denker wat altyd waarde by enige produksie kon toevoeg. Jy gaan beslis gemis word. Nag ou

Marius Dreyer en sy vrou Amanda het altyd
in mekaar se teenwoordigheid gesprankel.

grote!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button